Fokus op die landelike leefwyse Print E-mail
News - Kommentaar
Thursday, 17 April 2025 08:00
Untitled Document

Met April se Bronnie in jou hande kan jy van nog ’n lekkerlees-ervaring verseker wees. ’n Onlangse lesersbrief van Thys Swanepoel noem dit “’n genotvolle stukkie skatkis wat julle elke maand in ons woonhuise instuur”.

Die Bronnie se fokus bly al bykans 23 jaar lank op die landelike leefwyse. Ons weet dat ons lesers vir die omgewing en veral vir diere omgee en dié maand kan diereliefhebbers na ’n aantal hartroerende dierestories uitsien.

Blaai na bl 10 en lees meer oor gidshonde. Het jy geweet dat die Suid-Afrikaanse Gidshond-vereniging die honde wat hulle gebruik self teel? Die honde word kunsmatig geïnsemineer by die Onderstepoortkampus en gaan na die vereniging terug waar hulle geboorte gee. Wanneer die babahondjies agt weke oud is, word hulle aan pleegouers gegee wat hulle vir ongeveer 16 maande lank grootmaak . . . en dan moet laat gaan.

Blaai na bl 12 en lees meer oor vierpootsoldate. Het jy geweet dat katte, perde, honde, duiwe, ’n bobbejaan en ’n springbok dapper saam met menslike soldate in verskeie oorloë en veldslae wêreldwyd diens gedoen het. Dié helde word by die Diere in Oorlog-gedenkmuur, wat op 30 Maart by die Voortrekkermonument onthul is, vereer.

Ons vertel meer oor Jackie, die mak bobbejaan wat saam met sy mens, Albert Marr, oorlog toe is. Albert is in 1915 opgeroep vir diens in die Derde Transvaalse Regiment van die Eerste Suid-Afrikaanse Infanterie Brigade, wat geoormerk was om in Frankryk te gaan veg.

Nancy, ’n mak springbokkie, is ook saam Frankryk toe. Sy was vanaf 1915 die SA Infanterie Regiment (Transvaal Scottish) se gelukbringer. Hulle kenteken was ’n springbokkop, met die slagspreuk: “Eendracht Maakt Macht”.

Op bl 15 kan jy lees hoe reddingswerkers ses ure lank gestoei het om ’n donkie uit ’n septiese tenk op Bashewa te red. Hulle het loopgraaf-reddingstegnieke gebruik om ’n skuins gang langs die tenk se betonmuur te grawe sodat hulle by die donkie kon uitkom.

Op bl 23 vertel ons dat die uiters bedreigde ietermagog sy eie blitslyn gekry het. Jy kan die noodnommer gebruik om onwettige ietermagog-handel aan te meld of om te laat weet wanneer jy een van die diertjies sien.

Die genoemde berigte en nog meer wat in dié uitgawe opgeneem is, het ons te danke aan ’n leserskorps wat uitsien na stories wat op die landelike leefwyse fokus. Vir julle sal ons aanhou soek na sulke stories.

 

© 2025 Die/The Bronberger