Bosse blomme aan Bronnie-lesers Print E-mail
News - Kommentaar
Thursday, 20 March 2025 08:00
Untitled Document

Dié maand is weer ’n goeie tyd vir die uitdeel van ruikers aan dié wat dit verdien en ook van distels en dorings aan dié wat dit toekom.

Bosse blomme aan ons Bronnie-lesers se geesdrif en terugvoer, aan elke liewe lesers wat kommentaar gelewer het oor berigte in Die Bronberger se Februarie-uitgawe. Julle wys dat die Bronnie deeglik gelees word en dat julle, soos ons, omgee vir die natuur, diere en erfenisterreine.

Kyk na die lesersbriewe hier neffens op bl 4 en 5 en wat selfs oorloop na bl 6. Buks Barnard, Esmé Meyer en Louise Kritzinger het reageer op verlede maand se berig, ‘Oproer oor die marteldood van Pretoria se swerwende bobbejaan, Raygun’.

Ons het vertel dat hoërskoolleerlinge ’n bobbejaan, wat op hulle skool se dak beland het, doodgemartel het. Raygun was ’n baie spesiale bobbejaan wie se swerftog deur duisende Pretorianers dopgehou is.

Lesersbriewe van Brian Fenton en Tian Schutte is in reaksie op ‘Mynbou bedreig slagveldterrein’ in verlede maand se Bronnie. Ons het vertel van ’n nuwe aansoek om prospekteerregte, wat onder meer die Anglo-Boereoorlog-slagveldterrein (die Slag van Donkerhoek / Diamond Hill) in gevaar sal stel.

Ons is bly dat ons lesers wys hulle gee om en ons stuur die grootste doringkrans, gevleg van haak-en-steek- en wag-‘n-bietjie-lote aan diegene wat nie ’n bloue duit omgee dat diere gemartel word en erfenisterreine bedreig word nie.

Dié maand gee ons ’n bos wit rose aan die Hoogste Hof van Appèl en die Konstitusionele Hof wat Stad Tshwane beveel het om inwoners, wat langer as ’n dekade ongeldige eiendomsbelasting moes betaal, te vergoed. Gaan dit regtig gebeur? Lees meer hieroor op bl 8.

’n Bos bloedrooi rose aan Calista Schutte, wat besig is om 400 km oor 90 dae op ’n perd genaamd Zorse se rug af te lê om geld vir die Kankervereniging in te samel. Ons vertel wat haar reistog inspireer het op bl 10.

Rose aan die mense van Bashewa wat kinders van die Daspoort-gebaseerde Huis Ebenhaeser ’n pretdag met perde laat beleef het. Lees op bl 11 hoe baie van hulle vir die eerste keer in hulle lewe op ’n perd se rug gesit het.

Lekker lees aan dié maand se Bronnie. Ons sien altyd uit na lesers se terugvoer. Laat weet ons wat julle dink oor die dinge wat in Bronbergland gebeur. Stuur ’n e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it of ’n WhatsApp: 083-959-1016. Ons hoor graag van julle.

 

© 2025 Die/The Bronberger