Mooiklowers en motoriste was erg omgekrap oor die stinkende stroom riool
wat iewers by Mooikloof Ridge ontspring het en langs Garstfonteinweg in ’n
westelike rigting gevloei het. Dit was ’n geval van motorruite dig toe hou en
asem ophou. Ons wonder hoeveel inwoners is bewus van ’n soortgelyke
geval waar die oorsprong by ’n perseel in Mooikloof is en die stinkende
stroompie al langer as ’n jaar sporadies langs Atterburyweg-verlenging
afloop . . .
xxx
Riaan Taylor het laat weet dat RLU sekuriteit in samewerking met Conserv
Kleinfontein op Sondag 20 Desember ’n verdagte gevang het danksy inligting
van plaaswerkers dat mense in die bos skuil by Rhino Park. Met die hulp
van RLU se honde is verdagtes gevang en ’n Toyota Land Cruiser, wat die
Saterdag voor dit in Brits gesteel is, is in die bosse gevind.
xxx
Knap ná die artikel in Die Bronberger het
hulle ook die voorreg geniet om ’n jong piet-my-vrou in die tuin vir sowat ’n week
daagliks te kon sien, sê Dries en Sarie Herbst
van Bashewa.
Dit is ’n jong voël en dit was baie interessant
om te sien hoe ’n Jan Frederik langs die
groot piet-my-vrou op ’n tak kom sit en haar
op die borsie pik. Die Jan Frederik is seker die pleegouer.
Die piet-my-vrou het toegelaat dat ’n mens tot so naby as drie meter vanaf
die tak waarop sy gesit het kon kom. Een dag het sy selfs op die rugleuning
van ’n houtbankie op die braaidek digby die huis se skuifdeur kom sit.
xxx
Pieter Snyders het laat weet dat die aansoek vir ’n prospekteerderslisensie
op gedeeltes 10, 11, 51 en 129 van die plaas Rietfontein 366 JR, lêer nommer
30/5/1/1/2/511, deur die Departement van Mineraal en Energiesake
afgekeur is. Die applikant sal ’n nuwe aansoek moet indien as hulle steeds in
dié omgewing wil prospekteer. In Maart verlede jaar het ons berig dat inwoners
en bewaringsorganisasies erg ontstig is oor die aansoeke van vier mynmaatskappye,
Rio Tinto, Vhashokane Minerals, Golden Diamond en African
Compass Trading, om te prospekteer vir bykans alle minerale wat in Suid-
Afrika ontgin word. Die gebied wat geraak word strek van net suid van
Rayton af en sluit onder meer die Cullinan-Rietfontein bewarea, Renosterfontein,
Kleinfontein, Tweedracht en Kleinzonderhout in.
xxx
Dit lyk of die berigte van grootskaalse grondeise
die ore van ’n paar ongeduldiges in die Zwavelpoort-
gebied bereik het en of hulle meen die
sukses van die eise behoort ’n uitgemaakte saak
te wees. Op dié verkeersteken langs die Zwavelpoort-teerpad het een ongeduldige met geel verf
uitgespel wie hy/sy dink die eienaars van die
grond is. Dis onwaarskynlik dat die huidige, wettige
eienaar op dié manier sou wou aantoon dat
dit ‘our land’ is.
xxx
’n Tydelike hulpsentrum is by Kungwini se Shere-kantore daargestel om
inwoners met munisipale rekening-probleme by te staan. Dié stap is deel van
die skikkingsooreenkoms tussen Kungwini Plaaslike Regering en die
Kungwini Wes Alliansie wat inwoners in Wyke 1, 2 en 3 verteenwoordig.
Personeel sal glo op die hoogte wees met die bepalings van die skikkingsooreenkoms.
Verder sal pamflette versprei word by sentrale punte wat
duidelikheid sal gee oor hoe die tariewe uitgewerk is. Andre van der Walt,
raadslid vir wyk 2, beskou die verwikkeling as ’n positiewe stap in die verbetering
van verhoudings tussen inwoners en die stadsraad. Die sperdatum vir
die 30% afslag is 12 Februarie. ’n Spesifieke telefoonnommer en e-pos adres
was ongelukkig nie beskikbaar met Die Bronberger se saktyd nie. Die inligting
behoort wel beskikbaar te wees op
www.ido2.co.za. en www.kwa.co.za. |