Van der Stel se nasaat besoek die Bronberg Print E-mail
News - Ons Mense
Thursday, 21 January 2010 15:54
Untitled Document

Elf geslagte ná Simon van der Stel daag Nederlanders Peter van der Stel en sy vrou Connie vir ’n skemerkelkie in die Bronberg-gebied op. En ja, hulle kuier het alles te doen met die eerste Kaapse goewerneur.

Peter en Connie het Saterdagoggend 9 Januarie in Suid-Afrika geland om ’n paar dae op Belofte, Anton en Gerda Jansen se Rietfontein- plot teen Garstfonteinwegverlenging, te kuier. Hulle woon naby Rotterdam en het Suid-Afrika vir drie weke in Januarie besoek. Met ’n skemerkelkie op die Jansens se plot het Peter ’n praatjie oor sy beroemde voorsate gehou en vertel van die Van der Stel borsbeeld, wat gereed is om na Stellenbosch verskeep te word.

Sprake dat so ’n borsbeeld gemaak moet word, het reeds in 1910 begin, maar ná eindelose beplanning, het daar niks van gekom nie. Die Simon van der Stel Stichting het eers op 17 Julie 2008 te Leerdam in die gemeente Hoogvliet, Nederland tot stand gekom onder leiding van Leo van der Stel.

Die stigting het sewe bestuurslede waarvan drie van der Stel-nasate is en een, Chris Peel van Weltevreden, die Stellenbosch bestuurder is. Beide Stellenbosch, wat in 1679 gestig is, en Simonstad is na Simon van der Stel vernoem. Bronberger Anton Jansen en die Tshwane Geboue-erfenisvereniging, waarvan hy die hoof uitvoerende beampte is, het bygedra om dié borsbeeld ’n werklikheid te help maak. Die beeld is gemaak deur Nederlandse kunstenaar, John Mostert.


Peter en Connie van der Stel
Foto: Anton Jansen

Herkoms
Simon van der Stel was die laaste kommandeur en eerste goewerneur van die Kaapse Kolonie. Hy was die seun van Adriaan, ’n beampte van die Verenigde Hollands-Oos-Indiese Kompanjie en Maria Lievens, die dogter van ’n bevryde Indonesiese slaaf bekend as Monica da Costa of Monica van Goa. Deesdae word daar groot ophef gemaak van Simon se herkoms. Daar word gesê dat hy die eerste nie-blanke leier aan die Kaap was.

Simon is op 14 Oktober 1639 op ’n skip onderweg na Mauritius, waar sy pa as die eerste Hollandse goewerneur aangestel is, gebore. Hy het sy eerste sewe lewensjare daar deurgebring en is toe saam met sy ouers na Ceylon, waar sy pa vermoor is en sy ma ook dood is. Sommige bronne berig dat Adriaan iewers in die Ooste onthoof is en dat dit net sy kop is wat na Colombo op Ceylon gestuur is. Simon is toe na Batavia, ’n Hollandse kolonie in Java, waar hy gebly het tot hy 20 jaar oud was.

Daarna is hy Nederland toe om te gaan studeer en onderweg het die skip waarop hy was, anker gegooi in Tafelbaai, wat later sy tuiste sou word. In Amsterdam het Simon vir Willem Six, ’n belangrike lid van die kompanjie, ontmoet. Hy het in 1663 met Willem se dogter, Johanna Jacoba Six, getrou en hulle het vier kinders gehad.


?n Skildery van Simon van der Stel
Foto: Ezakwantu

Kaap
In 1679 is hy aangestel as kommandeur van die kompanjie se kolonie by die Kaap de Goede Hoop. Simon en sy vrou het egter nie goed oor die weg gekom nie, en sy is nie saam nie. Sy skoonsuster, Cornelia Six, het hom en die kinders Kaap toe vergesel.

Voor sy vertrek na die Kaap het hy ’n kind by die huishoudster van die bekende skilder, Jacobus de Wet, verwek. Later laat hy dié seun Kaap toe kom en hy word die stamvader van almal met die van De Wet.

In 1691 is die pos van kommandeur vervang met die van goewerneur en Simon is bevorder tot dié posisie. Hy het in 1699 afgetree en is opgevolg deur sy seun, Willem Adriaan van der Stel.


Die Nederlandse kunstenaar, John Mostert, besig met die borsbeeld van Simon van der Stel
Foto: Simon van der Stel Stichting

Dié seun was egter die teenoorgestelde van sy pa. Waar Simon die samelewing georden en ekonomiese en kulturele voorspoed gebring het, was Adriaan hebsugtig, oneerlik en bombasties – soveel so dat sy vrou probeer selfmoord pleeg het in die waterput in die kasteel. Die put is daarna gedelf en eers onlangs weer herbou.

Ná sy aftrede het Simon op sy plaas Constantia, nou bekend as Groot Constantia, gaan woon waar hy met druiwe geboer het. Sy kennis van druiwe en wyn het hy opgedoen by Muiderberg in Nederland, waar hy twee druiweboorde besit het, die druiwe self gepars en wyn en brandewyn gemaak het.

Vandag word Simon beskou as ’n wynplaas-pionier in Suid-Afrika en Constantia as die eerste wynplaas in die land. Hy is op 24 Junie 1712 op Constantia oorlede.


Dit is die eerste keer dat ?n foto van die borsbeeld in ?n tydskrif gepubliseer word
Foto: Anton Jansen

 

© 2020 Die/The Bronberger