|
Hoërskoolleerlinge het ’n bobbejaan, wat op hulle skool se dak beland het, doodgemartel. ’n Baie spesiale bobbejaan. Een wie se swerftog deur duisende Pretorianers dopgehou is. Een wat diep in mense se harte geklim het. Sy naam was Raygun.
Ons vertel Raygun se tragiese verhaal op bl 8 en 9. Pretorianers het sy roete daagliks vanaf Steve Biko-hospitaal gevolg tot hy uiteindelik die hoewegebied van Zwavelpoort bereik het. Almal het gedink dat hy daarná in sy roete ooswaarts veilig sal wees en ’n nuwe bobbejaantrop in ’n reservaat sal bereik. Toe nie.
Die omgee vir en belangstelling in Raygun was so groot dat die reddingswerkers wat hom gevolg het net op die dag toe hy Zwavelpoort bereik het, 726 WhatsApp-boodskappe en 168 oproepe van die publiek ontvang het.
Daardie ‘publiek’ in die ooste van en ten ooste van Pretoria is Bronbergers: Bronnie-lesers in ons eie verspreidingsgebied. Die gebied se raadslid het vertel hoeveel sekuriteitsforums bystand aan die reddingswerkers gebied het. Nog nooit het een bobbejaan soveel mense en instansies verenig nie.
Verskeie petisies het ná Raygun se marteldood die rondte begin doen. Mense wil hê dat die skool vir Raygun se gewelddadige dood aanspreeklik gehou moet word. Teen die Bronnie se saktyd is een van die petisies deur nagenoeg 9 000 mense onderteken.
Mense gee om. En die skool waar dit gebeur het? Ondanks video’s en foto’s van die gebeure, weier die skoolbestuur om die verantwoordelikes te identifiseer. Die Nasionale Dierebeskermings-vereniging het ’n beloning van R20 000 uitgeloof vir inligting wat sal lei tot die suksesvolle vervolging van diegene wat by Raygun se marteldood betrokke was. Gaan iemand ná die Bronnie se spertyd met dié inligting na vore kom?
Dit het in gesprekke met die skoolbestuur aan die lig gekom dat daar baie bygelowe is oor bobbejane, wat glo in heksery gebruik word. Tien kinders het glo daardie oggend flou geword, wat gelei het na die oortuiging dat die bobbejaan gestuur is om die kinders te begogel.
Hulle het hom met klippe en stokke aangerand en sy tande uit sy bek geskop; toe vasgebind, motorbande om sy lyf gesit en hom doodgebrand. Daarná was ’n toordokter glo daar om Raygun se hande en kop af te kap en sy borskas oop te sny om sy hart uit te haal.
Ons is bly dat ons mense nie ’n blinde oog op dié boosaardige gedrag draai nie. Dankie, inwoners van Bronberg-land, vir julle omgee-harte. Hou aan om op te staan vir ’n saak waaroor julle sterk voel. Hou aan om die stem te wees vir wesens wat nie kan praat nie.
|