Het jy gehoor? / Have you heard? – Nov2024 Print E-mail
News - Het Jy Gehoor
Friday, 15 November 2024 13:00
Untitled Document


Die Nickel Kersmark word van 27 November tot 8 Desember, daagliks van 9 vm tot 5 nm by Kungwini Welsynsorganisasie (KWO) op plot 214, Lynnwoodweg-verlenging (Grahamweg), Zwavelpoort gehou. Die mark bied ’n wye verskeidenheid items – iets vir elkeen se Kerskous. Sit aan om ’n heerlike maaltyd te geniet en luister na musiekkunstenaars wat op Saterdae en Sondae optree. Dié mark samel fondse in om kostes, wat nie deur die regering gesubsidieer word nie, te dek en om produkte, wat deur gestremde inwoners gemaak word, te bemark. Skakel 012-940-0221, stuur ’n e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it of besoek www.nickelmarket.co.za.

~*~


Die Pretoria Oos Geloftefees word weer vanjaar op 16 Desember om 9 vm gehou. Almal is welkom om dit by te woon. Die Geloftefees is in die vorm van ’n erediens, wat deur ds Van Wyk Fischer gelei word en vind plaas op die terrein van die Ou Motorklub in Keuningstraat, Silverton, agter die Silverwater Crossing-inkopiesentrum. Mense moet hulle eie stoele saamneem. Daar word ’n kollekte opgeneem om die uitgawes te dek. Ná die tyd word verversings geniet en saam gekuier. Vir navrae bel vir Oosie Oosthuizen (082-779-8576) of Bessie Keun (082-454-6060).

~*~


Kersliggies Oppi-Plaas word van 15 tot 30 November van 6 nm tot 10 nm by Legends-avontuurplaas op die R515, Rhenosterfontein gehou. Dié jaarlikse geleentheid bied ’n betowerende vertoning van liggies, ’n mallemeule, volop koskraampies en ’n nagmark. Daar is vermaak en ’n lekker aand uit vir oud en jonk. Kaartjies vir volwassenes kos R80, vir kinders onder 12, R50 en vir kinders onder drie, R5. Vir meer inligting besoek kersliggies.co.za, stuur ’n e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it of skakel: 074-120-0279.

~*~


Fairtree Atterbury-teater bied vir ’n derde opeenvolgende jaar die Kersfeesstasie Opwip-Winkel van 4 tot 8 Desember in die teater se voorportaal aan. Die openingsaand op 4 Desember is van 5 nm tot 9 nm. Op 5, 6 en 7 Desember is die Kersfeesstasie oop van 9 vm tot 7 nm en op 8 Desember van 9 vm tot 8 nm. Daar is dekoritems, handgemaakte leerprodukte, varsgebak, klei- en keramiekprodukte, koekies en beskuit, kinderboeke en Kersdekor. Gaan kuier saam, geniet ’n koppie koffie of glasie wyn en vul jou mandjie met eg Suid-Afrikaanse produkte in die aanloop na Kersfees. Die teater is in Daventrystraat 4, Lynnwood Manor. Skakel 071-686-7733 of besoek kersfeesstasie.co.za.

~*~


The Jacquelines Experience: 45th Anniversary takes the form of a black and white party on
30 November at Presleys, 2 Ernies Place, The Willows. This milestone event marks 45 years of unforgettable nights, legendary music and the iconic Jacquelines nightclub legacy. Dress in your finest black and white attire and get ready to dance to the best tunes from the 70’s, 80’s and 90’s. Entry is R180 at the door. The doors open at 7 pm and the party continues until 2 am. No under 30’s are allowed.

~*~


Die Doeremark word elke laaste Saterdag van die maand vanaf 10 vm by gedeelte 75, Boekenhoutskloofdrift, Cullinan gehou. Dit is 3 km vanaf OK Wadrif op die Molotopad, oorkant Eden Kerk. Daar is vars plaasprodukte, heerlike gebak, handwerk, pamperlang behandelings en sangers wat optree. Bel Brenda: 082-899-8856.

~*~


Wilge-teater hou ’n Kersfees-produksie, ‘The proof of love’, op Woensdag 20 November van 7 nm tot 9 nm. Die teater is by Hoërskool Die Wilgers, Frankweg 8 en toegang is gratis. Op Sondag
24 November om 1 nm word ‘Dankie tog vir Krog’ by dieselfde teater aangebied. Geniet die aand van lekker lag, baie gesels en poësie saam met Jak J Brits en André Odendaal. Kaartjies kos R150 en is by quicket.co.za beskikbaar.

~*~


Droomland is die naam van ’n musiekkonsert wat op 30 November van 10 vm tot 8 nm by die Pretoriase Nasionale Botaniese Tuine by Cussonialaan 2, Brummeria gehou word. Kunstenaars wat gaan optree, sluit in: Spoegwolf; Die Heuwels Fantasties; Will Linley; Neon Dreams; Van Pletzen; Schalk Bezuidenhout; Koos Kombuis; Die Melktert Kommissie; Black Heidi; en Aya Nixon. Kaartjies is by plankton.mobi/Events beskikbaar en kos R150 vir kinders onder 12 jaar. Fase een kaartjies vir volwassenes kos R250 en fase 2 kos R300. Sitplek in die goue kraal kos R1 850.

~*~


‘Kersfees is hier’ word om 10 vm op 7 Desember by Fairtree Atterbury-teater met Tiaan Slabbert, Alicia Badenhorst, Dihan Keun en Ntshikeng Matooane aangebied. Die regie is deur Michelle Botha. Dié jaar word die Kersete by die De Langes gehou: Ma Denise werk haar dood aan al die kosse, pa Kobus sukkel om die Kersliggies te ontkoek en Boeta, Sussa en Rocky die hond is die heeltyd onder ma se voete. Oom Trevor wil net braai en tannie Gene is baasspelerig. Oupa is stokdoof en ouma wil net oorneem . . . Klink bekend? Heerlike komedie en lekker Afrikaanse Kersgesang. Vader Kersfees kom ’n draai maak om al die maats se Kersbriefies persoonlik te kom haal. Daar is ook ’n foto-geleentheid saam met Vader Kersfees. Kaartjies kos R150 en is by seatme.co.za beskikbaar. Die teater is in Daventrystraat 4, Lynnwood Manor.

 

© 2025 Die/The Bronberger