|
In jou hande hou jy weereens ’n Bronnie wat wys hoe die gemeenskap saamstaan om diegene wat deur rampe getref word, te hulp te snel.
In ‘Wegholbrande saai verwoesting’ in Die Bronberger se Oktober-uitgawe het ons berig dat verwoestende brande ’n groot deel van die gebied in puin gelê het. In dié uitgawe skryf Keith en Des van Lingen van Bashewa op bl 6 hoe die gemeenskap hulle bygestaan het toe hulle grasdakhuis op 27 September afgebrand het.
Keith het aan Die Bronberger gesê: “Ek is 68 jaar oud en ons het alles verloor plus van ons diere. Maar ons het baie nuwe vriende gekry deur die ondervinding. Mense het letterlik klere uit hulle kaste gehaal en vir ons gegee en ander mense, wat ons nie geken het nie, het byvoorbeeld R5 000 vir ons gegee. Die gemeenskap wat die Bronnie dien is vol van die beste mense op die aarde.”
In nog ’n storie van verlies en hulp vertel ons op bl 16 dat veediewe op Marlize de Witt se jong boerbokkudde toegeslaan het. ’n Ram, 16 ooie en drie lammers is gesteel. Drie ander lammers van skaars ’n week oud is keelaf gesny.
Boere van reg oor die land het hulle harte teenoor Marlize oopgemaak. Wickus van Staden van Mellontikos Kalahari Red-stoetboerdery buite Cullinan het ’n stuk grond in dié omgewing, waar Marlize haar nuwe kudde veilig kan ophou, vir haar aangebied.
Ons vertel op bl 27 hoe Kuma, ’n hondjie met misvormde bene wat verlate gevind is, deur Wet Nose Diereskuiling gehelp is. Kuma se beentjies het abnormaal ontwikkel omdat sy in ’n klein ruimte, waar sy nie kon rondbeweeg nie, ingeperk was en erg ondervoed was. Kuma het ’n operasie gekry om haar beentjie reguit te maak en sy het in Oktober ’n tuiste vol liefde gevind.
In ’n hart-vir-bome storie op bl 14 vertel ons hoe ’n individu planne gemaak het om nuwe inheemse bome langs Lynnwoodweg, waar die koorsbome verlede jaar afgekap is om plek te maak vir padverbreding, aan te plant.
“Ek het met ontnugtering gekyk hoe hulle die een boom ná die volgende afsny. Ek sou later by die stadsraad hoor dis byna 270 bome in fase een alleen wat afgekap is,” sê Werner Bonthuys, wat ’n kunsateljee in die omgewing bedryf.
Werner het ’n borg gekry, samesprekings met Stad Tshwane gevoer en die wiele aan die rol gesit sodat witpeer- en Vanwykshoutbome binnekort langs ’n deel van Lynnwoodweg wat reeds voltooi is, aangeplant kan word.
Ons is trots daarop om só ’n gemeenskap se spreekbuis te wees. Hou aan om julle mooi stories vir ons te vertel. Ons deel dit graag
|