Ons lesers se geesdrif Print E-mail
News - Kommentaar
Thursday, 17 October 2024 13:00
Untitled Document

Dit is met ’n lied in die hart wat ons ná die Bronnie se 22ste verjaardag-uitgawe in September die nuwe somerseisoen binnegaan. Met oorweldigende goeie wense en positiewe terugvoer het ons lesers met die vorige uitgawe weer bewys dat die Bronnie al meer as twee dekades lank hulle gunsteling gemeenskappublikasie is.

Hier is ’n paar uittreksels uit onlangse briewe:

Isabel Groesbeek van Lynnwood Glen:
Julle tydskrif vir die gemeenskap is vir 22 jaar ’n vriend wat gefokusde nuus na baie huise bring. Julle fokus op sake van ekonomiese-, sosiale- en kulturele belang en fokus op die mense agter die stories is van groot waarde.

‘Alet Erasmus van Kleinfontein:
Die Bronberger is elke maand deel van ons en ander huishoudings met interessante en kleurryke artikels en inligting. Dit verg baie om maandeliks soveel interessante inligting in ’n publikasie te kry en daarvoor sê ons baie dankie! Elke uitgawe is uniek.

Prof dr Colin Lowe van Cullinan:
Ek ontvang en lees die Bronnie die afgeloper 22 jaar, sedert sy eerste uitgawe. Ek is trots om ’n leser te wees omdat die tydskrif nog altyd onbevooroordeelde artikels oor sake van die dag, geskiedenis, godsdiens en politiek publiseer. Julle maak ons trots om lesers van julle tydskrif te wees.

Esmé Meyer van Murrayfield:
Elke brokkie op elke bladsy word verslind. Van artikel tot nuushappie tot oog-oopmakende kontrei-advertensie het ’n mens verryk en aansienlik ‘wyser’ gelaat.

Gerhard Van Zyl van Moreletapark:
’n Mens lees die Bronnie van voor tot agter by die “girlfriend” (the final word) met groot lekkerte, voorwaar vol wetenswaardighede, alles in keurige taal, gehalte pennevrug!

Hendrik Opperman van Witpoort:
Veels geluk weer met die Bronnie. Dit is en bly elke uitgawe net ’n plesier om dit van voor tot agter deur te lees met al die wonderlike artikels wat julle plaas.

Frikkie de Jager van Benoni:
As afgetrede bankier was ek so beïndruk met julle verskeidenheid artikels asook puik adverteerders, dat ek julle graag komplimenteer met Die Bronberger se uitgawes.

Pieter Strobos van die Moot:
Dankie vir julle pragtige tydskrif! Dit doen baie aan mense se moed, visie en alles wat nodig is om groei in ons mooi stad en land te laat plaasvind. Hou so aan!

Die Bronnie is geseënd met getroue lesers wat deur bykans ongekende meelewing help om ons in die spoor vorentoe te hou. Lesers en adverteerders met hulle positiewe terugvoer dra daartoe by om nuwe lesers en adverteerders binne te nooi. Oneindig dankbaar is ons hiervoor.

 

© 2025 Die/The Bronberger