Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke
in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal
self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie
Dis lekker stil op ’n weekdag onder die
jakarandaboom by Sir Thomas Cullinan,
sekerlik die grootste en sigbaarste
restaurant in die geskiedkundige myndorpie.
Die gewoel van toeriste wat oor naweke op
Cullinan toesak, is op dié mooi Dinsdag afwesig.
Net ’n paar groepies ‘locals’ kuier gemoedelik by
tafeltjies in die groot buitekuierplek van die Sir
Thomas Cullinan. Die ewe groot binnewerke van
die plek is verlate. Waar ons knap teen die
sypaadjie sit, is dit lekker om die gewone gang
van die mense van dié plattelandse dorpie dop te
hou.
Sir Thomas Cullinan bied ruimskootse koskeuses en opsies van
aansitplek
Soos alles by die kuierplek, is die spyskaart ook
groot. In die afdeling vir ligte maaltye is byvoorbeeld
60 disse om van te kies. Dit sluit pasteie,
soos hoender- en herderspastei, ’n verskeidenheid
pizzas, burgers, burritos, wraps en nog wat
in. Die pryse boer hier tussen die vroeë R30’s en
laat R40’s rond.
Voorgeregte sluit sop, teen R27.95, ’n garnaalkelkie
teen R29.95, oesters teen R13.95 elk,
Carpaccio, calamari, slakke, trinchado, hoenderlewers,
’n broodverskeidenheid, en vyf soorte
slaaie in.
Die ses pastakeuses se pryse wissel van R59.95
tot R67.95. Soos by baie ander plekke is die
95 sent ook hier bankvas agter alle pryse
aangebring. Vreemde gewoonte wat van die
‘naantienaain’ sent dae oorgewaai het.
Die seekos-afdeling bied 14 keuses. ’n Tongvis sal
jou R99.95 uit die sak jaag en ’n koningklip
R109.95. Snoek kos R64,95 en seekos casserole vir
twee mense R299.95.
Vier geregte van hoender en drie van vegetariese
aard en ’n magdom lam, bees, vark en braaigeregte
pronk op die spyskaart. Telkens kan jy
kies tussen die groot porsie, genoem Sir Thomas
watookal en die kleiner porsie wat Lady Cullinan
heet.
Die beesstert was smaaklik en groothartig
Ook op die spyskaart word verduidelik dat goeie
kos tyd verg om voor te berei en word geduld
gevra. Goed en wel, maar ek wonder onwillekeurig
of ons drankies ook beter gaan smaak, toe
die kelner so lank draai om dit aan te bring.
Metgesel bestel die hoender schnitzel met ’n
suurlemoen-kruiesousie saam met gebakte
aartappel en groente. Dit kos R57.95. Sy in haar
skik. Metgesel is nie een van daai wat glo dat
“less more” is nie. Toe haar schnitzel aankom lê
dit bykans die groot bord vol. Dit smaak volgens
haar uit die boonste rakke en genoeg bly oor vir
’n brakkiesakkie vir mense. Sy is ook, anders as
ek, partydig vir die roerbraai-groente.
Uit die afdeling genoem ‘specialities’ besluit ek
op die beesstert. Die ‘oxtail’ kos R84.95. Dit is in
’n rooiwynsousie
gaargedoen en die porsie
is ruim. Ek maak die
fout om kapokaartappels
saam met die
stert te kies. Rys sou ’n
beter opsie gewees
het, want daar is
genoeg sousige aartappels
in die blink
potjie waarin die stert
kom, om ’n ete op sy
eie te regverdig.
Die oxtail is smaaklik.
Nie van dié aard dat dit
van die been afval nie,
maar meestal sag
genoeg. Ek sê meestal, want een stuk stert kom
duidelik van ’n bees van ’n ander kleur as die res
af en is onhanteerbaar taai. Dit gaan huis toe in ’n
brakkiesakkie vir honde. |