Angie Kleijn
Noem die naam Eugène Marais en almal weet van wie jy praat . . . Digter, skrywer, advokaat, koerantredakteur, kenner van dieregedrag, prospekteerder, hipnotiseur, sterrekundige, ‘wonderdokter’, dwelmverslaafde. Minder is egter geskryf oor presies hoe hy in die Marais-familie inpas, hulle verbintenis met die goud- en diamantvelde en die grootste filantroop wat Suid-Afrika nog gehad het.
In Pieter Kapp se boek, ‘Nalatenskappe sonder einde’, skryf hy oor die enorme bydrae wat Jannie Marais, bekend as Jan die Gewer, en die Marais-broers van Stellenbosch nagelaat het. Danksy dié broers se kombinasie van versiendheid, hardwerkendheid en kundigheid het hulle rykdom op die destydse diamantvelde opgebou. Hulle is met dié geld terug na Stellenbosch waar hulle dieselfde eienskappe laat tel het in die onderwys, in belang van Stellenbosch, op sakegebied en veral in hulle pionierstoewyding aan Afrikaans.
Catharina Helena Cornelia Marais, ’n nooi Van Niekerk
Bron: geni.com
Eugène Nielen Marais se oupa, Charles Gerhardus Marais, wat op die familieplaas Nektar op Jonkershoek in die Stellenbosch-distrik geboer het, was ’n broer van Jan die Gewer se pa. Charles is met Petronella Johanna Elizabeth, ’n nooi Nielen, getroud en dit is waar die Nielen-naam in die familie vandaan kom.
’n Karakter, wat later groot naam in Pretoria sou maak, Petrus Johannes (Lang Piet) Marais, gebore op die plaas Nektar op 22 Mei 1838, was ’n ruk lank saam met die Marais-broers op die diamantvelde, maar het sy rykdom op die goudmyne gemaak, waar hy ’n miljoenêr geword het.
Eugène Nielen Marais omstreeks 1931, sowat vyf jaar voor sy dood
Bron: Wikipedia
Jan
Lang Piet se broer, Jan Christiaan Nielen Marais, was Eugène se pa. Hy is op 29 November 1822 op Stellenbosch gebore en is op 28 Maart 1843 met Catharina Helena Cornelia, ’n nooi Van Niekerk van Malmesbury, getroud. Hulle het 13 kinders gehad, waarvan Eugène die jongste was. Drie kinders is vroeg oorlede, maar ses dogters en vier seuns het grootgeword.
Die gesin het op die Marais-familieplaas Nektar gewoon. Jan was ’n prokureur en in 1860 het hulle Bloemfontein toe getrek waar Jan in 1863 as staatsekretaris aangestel is.
Jannie Marais, bekend as Jan die Gewer
Bron: ‘Nalatenskappe sonder einde’
Toe tref tragedie: Jan is in 1867 uit die staatsdiens ontslaan op aanklag van geldverduistering. Hy is vir ’n ruk onder huisarres geplaas en om verdere vervolging te voorkom, het die gesin in 1868 na Pretoria gevlug.
Jan en sy broer Lang Piet het in 1868 ’n gedeelte van die plaas Daspoortrand gekoop en dit Les Marais genoem. Dit was eers ’n tabakplaas, genaamd ‘Edith’s Farm’. Al Jan se seuns het aanvanklik op die plaas gewoon. Ná 1881 het die plaas aan Hennie Marais behoort voor 100 erwe in 1890 deur MH Walker opgemeet is.
Jan Christiaan Nielen Marais
Bron: geni.com
Nigel
Lang Piet was met Sarah Mary Catherine Florence, ’n nooi Belfield, getroud. Volgens CJ Mieny se ‘Eugène Nielen Marais – Feit en Fabel’ in die ‘SA Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie, no. 3 1984’, het Lang Piet skatryk geword uit die goudmynbedryf omdat hy die plaas waarop die dorp Nigel begin is, besit het.
Die plaas se naam was Vlakfontein en Lang Piet het dit in 1881 gekoop, maar het nie daar gewoon nie. In 1882 het hy ’n prospekteerder aangestel om goud te soek. Vyf jaar later het ’n groep gouddelwers van Natal op Vlakfontein kampeer en gesien dat die prospekteerder, sonder Lang Piet se wete, goud gevind het. Hulle het Lang Piet £1 000 vir die plaas aangebied.
Lang Piet Marais en King Coffee – die langste en kortste man in toeka se Pretoria
Bron: Engelbrecht, SP, Eeufees-Album. Pretoria se eerste eeu in beeld
Lang Piet was besig om Sir Walter Scott se boek, ‘The Fortunes of Nigel’, te lees – ’n storie oor ’n jong man wat die slagoffer van oneerlikheid was. Met dié storie in sy agterkop, is Lang Piet self plaas toe en het gesien dat ’n goudrif ontdek is. Só is die naam Nigel gebore.
In ’n alternatiewe weergawe van dié storie word daar vertel dat Lang Piet ’n Skotse prospekteerder, Nigel MacLeish, aangestel het. Hy het die goudrif gevind en het dit Nigel’s Reef genoem. Lang Piet het die helfte van die plaas op 15 April 1887 aan sakemanne van Pretoria, wat hulleself die Nigel-sindikaat genoem het, verkoop. Die Nigel Goudmynmaatskappy is op 31 Maart 1888 geregistreer en het die tweede helfte van die plaas op 4 Junie 1888 by Lang Piet gekoop.
Veldkornet Melt Marais
Bron: Rosa Swanepoel-versameling
Lang Piet
Tog moet daar ’n verbintenis met die boek, ‘The Fortunes of Nigel’, wees want alle kerke op die dorp is na kerke in die boek vernoem. Lang Piet het heelwat eiendomme in Pretoria besit en een daarvan was Nigel House, die eerste dubbelverdiepinghuis op die dorp. Die tuine om die huis het amper die hele blok tussen Schoeman-, Pretorius- en Prinsloostrate beslaan. Die huis het later ’n hotel geword en het as Nigel House Hotel bekend gestaan.
Lang Piet het ook ’n erf op die noord-westelike hoek van Kerkplein, wat eers aan kaptein Struben behoort het, besit. Een van die geboue wat later op die erf gestaan het, was as die Marais-gebou bekend.
’n Groep offisiere van die staatsartillerie met Melt Marais in die middel
Bron: Rosa Swanepoel-versameling
Lang Piet was direkteur van die Lydenburg Gold Prospecting Co en aandeelhouer in Transvaal Mining. Verskeie winkel- en dranklisensies is aan hom toegestaan en hy het op menige komitee gedien, soos die een vir die stigting van ’n skool vir jong dames; ’n komitee vir die stigting van ’n hoërskool; en hy was voorsitter van die komitee vir die stigting van ’n perdereisiesklub.
Maraisstraat in Brooklyn is na Lang Piet vernoem. Ander strate in dié voorstad is na sy seuns vernoem (Rupertstraat en Charlesstraat), na sy dogter (Farrellstraat na Dorothy Noreen Farrell) en na sy skoondogters: Stellastraat na Rupert se vrou, Stella Felecia, ’n nooi Emmett, en Maystraat na Charles se vrou, Catherine May Venitia, ook ’n nooi Emmett.
Robert Kuranda
Bron: Men of the times
Melt
Waar Lang Piet se kinders Engelse name gehad het en grootliks met Engelse vrouens getrou het, was een van Jan se seuns, Melt Marais, veldkornet vir Pretoria en het ’n leidende rol in die verset teen die Engelse gespeel.
Melt is op 19 Julie 1860 op Stellenbosch gebore en sy skoolonderrig het op Grey College, Bloemfontein begin. Hy het in 1868 saam met sy gesin na die plaas Les Marais getrek.
Melt het in sport uitgeblink en is gereeld in ‘De Volksstem’ genoem. In 1876 is ’n sportdag gehou om president Burgers se verjaarsdag te vier en die 16-jarige Melt het die 150 jaarts gewen en ook die hoogspring vir seuns met ’n hoogte van drie voet 10 duim.
Melt het vir agt jaar op Les Marais geboer en het daarna ’n klerk in die handelsfirma Field & Hoffmann in Pretoria geword. Hier het hy genoeg ondervinding opgedoen om op sy eie te begin handel dryf en hy het in 1885 ’n algemene agent en makelaar geword.
Hy was vir 15 jaar veldkornet van Pretoria en was vir vyf jaar in bevel van die berede en voetsoldaat-vrywilligers. Met die Anglo Boere-oorlog was Melt in bevel van Pretoria en oor ’n jaartydperk het hy met die rang van veldkorent in Natal geveg. Hy was in die veldslae by Tugela en Ladysmith.
Toe die Britte Pretoria in 1900 ingeneem het, is Melt gevange geneem en na Groenpuntkamp in die Kaap gestuur. Ná die vrede van 1902 is Melt terug na Pretoria waar hy aangegaan het met sy gevestigde sakebelange.
Melt Marais se graf
Bron: eggsa.org
Trou
Melt het in 1887 met Magdalena Maria Marais (Lenie), die derde dogter van JM Boshoff, later tesourier-generaal van Transvaal, getrou en hulle het ses seuns en drie dogters gehad. Hy was ’n vrederegter vir die Pretoria-distrik en ’n lid van die Pretoria-klub en New-klub.
Sy broer, die digter Eugène, het Lenie se niggie, Aletta (Lettie) Beyers, in 1893 ontmoet toe sy in Pretoria kom kuier het en het in Augustus 1894 met haar getrou. Elf maande later (op 17 Julie 1895) het sy aan kraamkoors gesterf ná die geboorte van hulle seun (Eugène Charles Gerard Marais) op 8 Julie 1895; ’n verlies wat Eugène die res van sy lewe bygebly het.
Die grafsteen van Jan Christiaan Nielen Marais en sy vrou, Catharina Helena Cornelia
Bron: geni.com
Eugène was in ’n stadium ’n prokureursklerk by Melt se firma, Kuranda & Marais. Melt se vennoot was Robert Kuranda, wat in 1862 in Oostenryk as die seun van A Kuranda, ’n bekende lid van die Oostenrykse parlement, gebore is. Hy het in 1879 as troep in Suid-Afrika aangekom om in die Zoeloe-oorlog te veg.
Robert het in 1882 ’n ZAR-burger geword en het vir Alois Hugo Nellmapius as aankoper van plase gewerk. Hy was betrokke by die vind van goud op die plaas Doornfontein en het in 1888 saam met Melt Kuranda & Marais gestig, ’n firma wat met tye soveel as 2 500 bouwerkers in Johannesburg in diens gehad het.
Mabel Malherbe
Bron: Wikipedia
Kuranda & Marais se kantoor was in die Commercial Chambers, wat oorspronklik ’n woonhuis op Kerkplein was. Die firma se advertensie het vertel dat hulle die volgende doen: Die koop en verkoop van eiendomme, belê van geld, likwidasie van boedels, die oordrag van aktes en notariswerk. Hulle het ook adverteer dat hulle sake voor die laer en rondgaande howe in die republiek behartig en dat die dienste van ’n ervare prokureur daarvoor gebruik word.
Die Commercial Chambers is in 1892 gesloop om vir die Nasionale Bank-gebou plek te maak en Kuranda & Marais het na die Transvaal Mortage & Loan-gebou geskuif. Ná die vennootskap ontbind is, het Melt in 1899 na die Erasmus-gebou getrek.
Die middelste gebou met die groot stoep op Kerkplein was die Commercial Chambers
waar Kuranda & Marais se kantore was
Bron: Rosa Swanepoel-versameling
Jess
Een van Eugène en Melt se susters, Gezina Wilhelmina Constantia (Jess) het ook bekendheid verwerf. Die Engelse skrywer, Henry Rider Haggard, het haar glo as inspirasie vir die hoofkarakter van sy boek, ‘Jess – A tale of the Boer War’, gebruik. In die laat 1870’s het Henry twee akkers aan die “bokant van Pretoria” gekoop. Met die tyd van die Britse okkupasie in die Eerste Vryheidsoorlog het Henry en sy vriend, Arthur Cochrane, daar vir hulle ’n sinkdakhuisie gebou wat hulle spottenderwys ‘The Palatial’ gedoop het. Dié kothuis het later as Jess’s Cottage bekend gestaan.
Jess Marais het met Frank Rex, ’n afstammeling van George Rex, stigter van Knysna, getrou. Hulle dogter, Mabel Catherine Rex, het met Kenne Malherbe getrou en is in 1931 as Pretoria se eerste vroue-burgemeester gekies. Sy was die tweede vrou en die eerste Afrikaanssprekende vrou wat tot die parlement verkies is. |