Dis soos hoogverraad PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Thursday, 21 January 2010 08:57
Untitled Document

“’n Mens mag nie oor die reent kla nie”, sê Grootpiet ewe ontstig. Die ander ouens in die kuiergat het al geleer om ernstig aandag aan Grootpiet se menings te gee.

Grootpiet se bynaam was eers Vetpiet, totdat hy op ’n dag met die hulp van ’n oorveeg of drie verduidelik het hoekom ’n mens hom nie só moet noem nie.

Nee, hy kla nie, sê ou Willie-in-diehoek, versigtig. Hy sê maar net. “Om te kla oor reën is amper soos heiligskennis of hoogverraad,” sê Grootpiet nou dreigend.

“Aag kom ons los maar die praatjies oor die reën. Dis in elkgeval afgewater,” sê ou Allies, wat destyds aan die ontvangkant van ’n oorveeg was. “Nee, man,” hou Willie vol, “ek praat oor El Nino, ek kla glad nie oor die reën nie. Rêrig nie.” Waarop ou Faan so ewe wil weet of El Nino nie daai plek in Lynnwoodweg is wat die lekker pizzas maak nie.

Grootpiet se aandag is dadelik verdeeld by die aanhoor van die woord ‘pizza’ en Willie waag dit verder. “El Nino,” sê hy, “is ’n weerverskynsel en hulle het gesê dat dit dié seisoen verskriklik droog gaan wees oor El Nino se dinge, maar kyk nou net hoe reën dit. Amper elke liewe dag,” sê Willie.

“Katte en honne, bejaarde huisbediendes met knopkieries, aanmekaar, maar ek kla nie,” sê hy.

Dit laat hom dink aan sy skoonma, sê Allies. “Hoekom? Hou sy ook baie van Pizza?” wil Grootpiet weet en dis duidelik dat hy belangstelling in die weerpraatjies verloor het. Nee, sy skoonma, sê ou Allies, is soos dié El Nino. Ook ’n weerverskynsel, sy. “Elke keer as jy dink jy is ontslae van haar, dan verskyn sy weer,” sê Allies.

“Hy lees iewers,” sê Faan, “dat die droogte nog op pad is. Die koerant het ’n mannetjie by die weerburo gevra hoekom reent dit nou so baie terwyl hulle voorspel het dat El Nino los is en dat dit vreeslik droog gaan wees. Toe sê die mannetjie van die weerburo dat mense nie te gou moet gerus raak nie, want die groot droogte is nog op pad,” sê Faan.

“Gmmff,” sê Willie. Dit kon hy ook voorspel het. As dit in die volgende maande droog raak, gaan dit nie El Nino se skuld wees nie. Dit sal ’n weerverskynsel wat hy sommer winter noem se skuld wees, sê Willie.

 

© 2019 Die/The Bronberger