Geen politiek hier Print E-mail
News - Kommentaar
Thursday, 21 January 2010 10:40
Untitled Document

Dit is al in die meer as sewe jaar van Die Bronberger se bestaan gereeld uitgespel, maar dit blyk nodig te wees om dit weer te herhaal: Die Bronberger is ’n onafhanklike publikasie wat nie verbind is tot enige groot organisasie of veral politieke party nie.

Hoekom is dit nodig om dit weer te herhaal? Wel, laat in verlede jaar, voor ’n munisipale tussenverkiesing, het ons ’n advertensie geplaas van ’n bepaalde politieke party. Dit het duidelik ’n paar lesers hewiglik ontstel en blykbaar vrae by ’n klompie ander laat ontstaan.

Een omgekrapte man wou weet of ons nou ’n mondstuk van die DA is. Die advertensie ter sprake is deur die Demokratiese Alliansie geplaas. Ons het aan die man verduidelik dat dit wat hy in die tydskrif gesien het, ’n advertensie is. Soos met enige advertensie is die stellings, inligting, aansprake en menings wat daarin uitgespreek word, dié van die adverteerder en nie dié van Die Bronberger nie.

Ons het voorts verduidelik dat Die Bronberger ’n onafhanklike publikasie is wat gratis aan die gemeenskap waarvan ons deel is, versprei word en in sy geheel afhanklik is van advertensie-inkomste. Ons sal slegs weier om ’n bepaalde advertensie te plaas as dit na ons mening aanstootlik, misleidend en bevorderlik vir die bedryf van onwettighede is.

Die man wou toe weet of ons ’n advertensie van die ANC sal plaas. Ons antwoord was, ja. Mits dit nie een van die bogenoemde bevat nie. In ons redaksionele ruimte vermy ons party-politiek. Waar ’n politieke party egter iets aanvang wat die gemeenskap raak of waarin hulle ’n belang sal hê, sal ons wel daaroor berig of selfs daaroor kommentaar lewer.

Dit kan ook gebeur dat ons sal skryf oor ’n betrokke politikus, afgesien van die party waarbinne hy of sy optree. Dit sal gaan oor die persoon se doen en late, goed of sleg en nie oor die goed of sleg van die party nie. Ons sal egter nooit as mondstuk of bemarkingsmedium vir enige politieke party of organisasie met partypolitieke bande optree nie. Ons wil die klem hier laat val op ‘enige’. Ons streef daarna om na die beste van ons vermoë die gemeenskap van die Bronberg-gebied se mondstuk te wees. En dit is al.

Hekverspreiding
Ons het besluit om die direkte hekverspreiding in dele van Shere, Zwavelpoort en Olympus ná sewe jaar te staak. Ons is jammer vir die ongerief wat dit veroorsaak aan dié lesers wat gewoond geraak het daaraan om hulle Bronbergers maandeliks afgelewer te kry.

Ekstra tydskrifte word egter by verspreidingspunte naby aan dié gebiede verskaf. Van dié punte is: Bafana Cash Store, Star Trading, Bronberg Lodge, Farm Barn, NG Kerk Tygerpoort, Blyfontein Kwekery, Rykor Kafee, Soleil Rose, DVD Shop, Spar Wapadrand, De Ruÿter, Senex, Farm City, Bali Winkel, Die Werf, Tina Skukan Gallery, Pick & Pay Olympus, Olympus Stream, CJ’s Supermark, R3 & R5 Kwekery, Karoo Café en Kwekery, Chemcraft, ISP Steel, Lots of Pots en Leeubrug.

 

 

 

 

 

© 2024 Die/The Bronberger