Wenke vir Kersfees uit Andria se kruieparadys Print E-mail
News - Ons Mense
Friday, 11 December 2009 01:50
Untitled Document

Wie sou nou kon raai dat daar ’n kruieparadys skuil agter die heining van ’n doodgewone huis in Rayton. As jy verby Jennerstraat 53 ry, sal die mooi roostuin jou dalk opval. Jy mag vermoed dat iemand met groen vingers hier woon, maar hoe groot die skat is wat hier gekweek word, besef min mense.

Andria Cronjé het meer as ’n honderd verskillende kruiesoorte op haar Rayton-erf. Sy kan elke kruid in haar tuin op sy naam noem, vertel hoe dit versorg moet word en waarvoor dit gebruik kan word.

Kliniek
Vriendinne beskryf Andria se tuin as ’n organiese kliniek. Daar is seldery vir hoë bloeddruk, smeerwortel vir wonde of gebreekte bene, duisendblad vir rumatiek en kamille vir ’n kindjie wat nie tot rus kan kom nie. Trek maar net so ’n bietjie katment as ’n tee as jy depressief voel. As sinus jou pla, kan Echinacea jou oplossing wees. Roosmalva kan tot jou redding kom as jy onder te veel druk is.

Selfs moerbeie het baie meer gebruike as wat ’n mens ooit sou kon raai. Dit help glo vir ’n helder verstand en is goed vir jou maag. Die Chinese glo selfs dat dit help vir hoes en daarom maak Andria gereeld moerbeisap, moerbeiroomys en selfs moerbeitee.


Andria en Magda Ruitenberg versamel plantmonsters waarmee hulle later by die tafels gesigsmaskers, slaai en medisinale tinktuur gemaak het

Kleintyd
Andria se belangstelling in kruie kom van kleintyd af toe sy op die plaas Goedgedacht naby Mara Navorsingstasie in die Soutpansberg grootgeword het. “As kind op die plaas was kruie maar die eerstehulp. Apteek-toe-gaan was buite die kwessie, want die dorp was by die 70 km ver,” sê sy. “My ouma het ons altyd so ongemerk ‘gedokter’ met ’n byderhand plantjie vir ’n hoesie of pyne en skete.”

Dit is egter eers nadat Andria se oupa gediagnoseer is met kanker en daar, volgens die dokters se berekening, net ’n paar maande vir hom oor was, dat Andria regtig in kruie begin glo het.

“My oupa het ’n verdere 12 jaar langer geleef danksy kruie en genade van die grootste geneesheer. Hierdie belewenis het my laat regop sit en het vir seker ’n landmerk in my geheue gebrand.”

Plant
Tog het Andria, tot so tien jaar gelede, nie genoeg selfvertroue gehad om kruie aan te plant nie. “Ek sou geen plant aan myself toevertrou nie, nie eers een wat ek vir ’n kort vakansie moes help versorg nie. Dit sou doodeenvoudig net nie oorleef het nie.”

Teen 2000 het Andria en haar man hul eerste huis gekoop en sy het besluit dis nou of nooit – sy gaan begin plant. Op 7 November verlede jaar het Andria-hulle ’n nuwe huis op ’n veiling gekoop en daar was letterlik niks meer van die tuin oor nie, behalwe heup-hoogte onkruid en vyf ou siek vrugtebome. Dit was net die uitdaging waarna Andria gesoek het.

“Ek het net besluit dat as ek nou iets moet plant, niks op die werf verniet losies sal kry nie. So, kruie was kwalifiserende inwoners.”


Andria, met haar rug na die kamera, verduidelik vir kursusgangers dat die kruiebedding waar hulle staan skaars drie maande van tevore aangeplant is

Kreatief
Andria kon na hartelus kreatief raak met stukkies uitspitsels uit haar vorige tuin en van vriende waar plante van die komposhoop gered is, of stiggies wat sy gemaak het uit die stadsraad se beddings. Die beddings is net hier en daar aangevul met gekoopte saad.

“Ek moet waarsku dat te veel geld die kreatiwiteit demp,” sê Andria. “As jy eers weet waarna jy op soek is, sien jy skielik ongekende skatte oral in oop stukke grond groei.” Sy sê ook dat kruie deesdae nie meer iewers in die agterste hoekie van die erf weggesteek word nie. Kruieplante met ’n aangename reuk en vrolike kleure kan gaste dadelik verwelkom by ’n voordeurbedding. “Hier werk smeerwortel baie goed” sê sy “en dan is hy sommer byderhand as ’n noodhulptassie.”

Kursus
Volgens Andria is die kweek van kruie ’n heerlike stokperdjie waarmee jy baie kan doen. Sy het kruiekursusse in haar splinternuwe tuin begin aanbied wat bekendes lok. Einde Oktober was radio-omroeper, Alette Erasmus, opera sopraan, Alta van Huyssteen en sampioenboer, Elrize Janse van Vuuren van die vrouens wat die kursus bygewoon het.

Elrize sê dit is fassinerend om te sien hoe helend en gebruiklik elke krui is. “Wanneer jy deur Andria se tuin stap en ruik en proe aan elke krui, dan prikkel dit sommer jou lus vir tuinmaak en ook vir kosmaak.” Kruie gee meer lewe aan die disse wat jy voorberei. Vergeet daarvan om net die gewone tamatie en komkommer in ’n bak te gooi. Jy kan die heerlikste gesonde slaaie maak met komkommerkruid, koringblom, broccoli en oreganum.


Blom artisjokke word voorberei in Andria se werkswinkel. Voor sit Magda Ruitenberg en Alet Delarey. Agter van links na regs is Alette Erasmus, Mariaan Engelbrecht, Ena Vorster, Alta van Huyssteen en Elrize Janse van Vuuren

Ment
Ons het Andria gevra hoe sy die feesseisoen spesiaal sal maak met kruie. Sy kies ment as ’n krui vir dié groot-eet-tyd omdat baie mense reeds ten minste een van die ongeveer 30 variëteite in hul tuine het. Ment is ook ’n uitstekende hulpmiddel vir die spysvertering na ’n reuse Kersmaal.

Jy kan ment by skaap en lam, vark, vis, eend en hoender gebruik. Gebruik vars ment vir garnering in aartappels, beet, tamaties en jong worteltjies. Droë ment kan ook oor rys en in ander Oosterse graangeregte gestrooi word.

Vir ’n drinkdingetjie kan ’n mens rondom Kersfees altyd ’n bietjie spaar op die kilojoules. Gebruik Sprite Zero met suurlemoensap, vars ment en ’n bietjie vodka vir die brawes.

Andria sê dat ment pesto ’n moet is vir die feesseisoen. Dié smeer is so veeldoelig dat daar maar altyd ’n bietjie in die yskas kan lê. Dit kan as vulsel tussen gekoopte koekies dien, by ’n Swiss roll, ingemeng met sjokoladesous oor roomys of koek of saam met Andria se ‘Brownie’ resep.


Andria se kruietuin is ?n paradys vir twee- en viervoetiges

Ment pesto
Om die ment smeer te maak, kap ’n halwe koppie Makadamia-neute fyn. Gooi twee styfgestopte koppies mentblare by, ’n halwe koppie heuning en een eetlepel vanilla. Meng alles saam en hou in die yskas as ’n smeer. Jy kan ook ’n hele ‘slab’ donker Albany sjokolade in die mikrogolf smelt en dit by jou smeer voeg.

Ment pesto ‘Brownies’
Voorverhit die oond en gesmeerde 20 cm pan teen 180º C. Smelt ses eetlepels botter met 50 g donker sjokolade daarby. Roer twee eiers en een proppie vanilla by. Roer nou ’n halwe koppie meel versigtig daarby in.

Gooi beslag in warm pan. Maak krulle met ment pesto bo-oor, deur ’n pesto-gevulde plastieksak met ’n gaatjie in. Bak vir 25 minute of tot die ‘brownie’ van die kante begin wegtrek. Sny eers wanneer afgekoel.

 

© 2020 Die/The Bronberger