Teen die tyd wanneer jy dié Bronnie in jou hande hou, is die splinternuwe jaar lank reeds in volle swang en het menige Nuwejaarsvoornemens klaar gesneuwel.
Hier by die Bronnie het ons ’n paar voornemens wat oor die afgelope 21 jaar steeds dieselfde bly. Die belangrikste daarvan is om nuuskierig te bly. Eleanor Roosevelt het mos juis gesê as ’n ma by haar kind se geboorte vir ’n Goeie Fee kan vra om vir haar bloedjie die nuttigste geskenk te gee, daardie geskenk nuuskierigheid sal wees.
Ons wil namens nuuskierige lesers probeer uitvind wat die storie agter die storie is van dit wat in ons omgewing aangaan. Lesers in Pretoria-oos wat dwarsdeur die nag van 26 Desember tot vroegoggend 27 Desember wakker gehou is deur musiek “wat die vensterrame laat ratel” het, kan op bladsy 8 meer lees oor die fees wat gehou is en die mens wat dit begin het.
Perdeliefhebbers wat gewonder het of dit moontlik sal wees om deesdae met ’n perd vanaf die Bronberg-gebied na Bloedrivier te ry, kan op bladsy 12 lees hoe die twee-weke-lange rit in Desember aangepak is en hoeveel kilometers die ruiters, wat elke oggend voor drie uur moes opstaan, daagliks afgelê het.
Moreletapark-inwoners wat kopgekrap het oor die Rooivalk-helikopter wat laag oor die woonbuurt gevlieg het – nee, dit was nie ’n klopjag by Plastic View nie. Lees op bladsy 17 hoe die Rooivalk deel was van dr Paul Potgieter, bekend as “Vader van die Rooivalk”, se begrafnisdiens by Moreleta Kerk.
Die Bronberger probeer sedert sy ontstaan in September 2002 om met en oor die mense van sy verspreidingsgebied te praat en uit te vind wat hulle doen en hoekom dit vir hulle belangrik is om dit te doen.
Lesers wat nuuskierig is oor die geskiedenis van ons gebied weet dat hulle altyd op die Bronnie kan staatmaak om minder bekende feite op te diep in ‘Toeka se Dae’. Omgewingsake lê ons nog altyd na aan die hart en ons wil vanjaar weer meer vertel oor die gebied se ryk plant- en dierelewe.
En, die vraag op almal se lippe in Januarie: Wanneer kom die Bronnie? Ons hele jaar se skedule met sperdatums en verspreidingsdatums word op bladsy 26 met lesers gedeel.
Laat weet ons gerus waaroor julle nuuskierig is. Of moet ons eerder nuus-kierig sê? Soos altyd, sien ons daarna uit om terugvoer van ons meelewende lesers te kry. Stuur jou e-pos na
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
. |