Jy kan hulle Kersfees spesiaal maak Print E-mail
News - Ons Mense
Thursday, 10 December 2009 23:46
Untitled Document

Kersfees is om die draai. Vir behoeftiges is dié feesseisoen nie altyd iets om na uit te sien nie. Daar is egter dinge wat jy kan doen om ’n vonkel in ’n minderbevoorregte kind se oë te help sit.

Kerspartytjie
Castle Avalon, op die Boschkoppad, hou op 23 Desember ’n Kerspartytjie- in-die-kasteel vir kinders van die Loerie Jeugsentrum, ’n kinderhuis op ’n plot buite Bronkhorstspruit. Daar is 29 kinders in dié tehuis en hul ouderdomme wissel van ses to 18 jaar oud.

Die Loerie Jeugsentrum Trust is gestig deur sewe sakemanne en -vroue wat die welstand van hierdie kinders swaar op die hart dra. Die trust is ’n nie-winsgewende instansie en ontvang geen staatsubsidie nie, wat beteken hulle is self verantwoordelik vir alle lopende uitgawes soos verbandskostes, voedselvoorsiening, vervoer, mediese onkostes, water, elektrisiteit en lone.

Lesers is welkom om enige ou klere, skoene, speelgoed en skoolbenodigdhede aan dié kinders te voorsien vir die Kerspartytjie.

As jy wil help, kan jy geskenke by Castle Avalon gaan aflaai of jy kan hulle bel om te reël om die geskenke by jou te kom oplaai. Praat met Deon of Richard by 082-897- 4307 of 072-242-3072. GPS koördinate: S25° 51’ 17.4” E028° 30’ 59.3” Die Loerie Jeugsentrum is op plot 28, Versterpark, Bronkhorstspruit. Kontak hulle by 013-932-0206.

Donasies
Volkshulp 2000, ’n welsynsorganisasie wat geen subsidie ontvang nie, maak ook gereed vir Kersfees met Kerspakkies en -geskenke. Jy kan help met hul Kersfonds 2009- insameling deur donasies te gee in die vorm van kos, klere, meubels, beddegoed en gordyne, speelgoed en breekware. Alles wat in jou huis oortollig geraak het, is welkom hier.

’n Woordvoerder van Volkshulp 2000 sê dat die nood die afgelope 12 maande geweldig toegeneem het. Daar is daagliks ’n toeloop van mense wat afbetaal is en nie weer werk kry nie. In die meeste gevalle is daar kindertjies betrokke wat gebrek ly en in baie gevalle nie skoolgaan nie.

Volkshulp 2000 het in die boekjaar Maart 2008 tot Februarie 2009 R1.5 miljoen se kos en klere uitgedeel. Daar is 7 000 mense gehelp met kospakkies en klere.

Hul bankbesonderhede is: Volkshulp, ABSA, Ben Swartstraattak, rekeningnommer: 10176514. Vir meer inligting, skakel 012-755 8201/2 of 083-675-8851.

 

© 2020 Die/The Bronberger