’n Ongewone skynverhoor is op 27 November in die hofsaaltjie by Welbekend-polisiestasie gehou. Dié was ’n eerste vir die gebied en ’n toonbeeld van samewerking tussen verskeie instansies in die gemeenskap.
Die skynverhoor is as ’n opvoedkundige oefening vir tuisskoolleerders vanuit die Bronberg-omgewing van Gauteng se Classical Conversations organisasie en dié van Tzaneen, Limpopo-provinsie uitgevoer.
Om binne die gemeenskap die regte lokaal, met die ooreenstemmende regte atmosfeer te bekom, in plaas van om net ’n gewone klaskamer te gebruik, was ’n reuse uitdaging. Die probleem is uiteindelik opgelos toe die Boschkop-polisiestasie genader is. Onder leiding van luitenant-kolonel Witbooi, tesame met die bekwame adjudant-offisier Cobus Ras, is die hoflokaal vir die skynverhoor bekom. Welbekend-polisiestasie en personeel, onder leiding van luitenant-kolonel Cronjé, het hulle perseel beskikbaar gestel.
Ouers vertel dat dié polisielede dadelik hulle entoesiastiese samewerking gegee het en dit as ’n gulde geleentheid gesien het vir die plaaslike polisiemag om ’n inset te kan lewer in die lewe van dié jong tuisskoolleerders in die Bronberg-omgewing.
Van links na regs, voor: Olivia Barnard; Haileigh Havenga; Lisa de Villiers; en Letitia Smith. Agter: Pieter Smith; Burger Loppers; en Hugo Gotze
Foto: Verskaf
Die amptelike verrigtinge het op Maandag 27 November om 10 vm afgeskop en dit het twee rondtes ingesluit wat 6,5 ure geduur het.
Charlene Barnard was die tuisonderriggewer wat die aangeleentheid orkestreer het. Sy sê dat elke span kans gehad het om hulle saak as verdedigingspan met getuies, en as vervolgingspan met getuies, aan ’n paneel van twee jurielede en ’n regter voor te lê.
Vir ’n volledige semester het die studente intens deur die saakmateriaal, getuieverklarings en hofbewyse gewerk en strategieë beplan om uiteindelik in staat te kon wees om in dié skynverhoor mee te ding.
Charlene sê dat die primêre doel van die projek was dat studente die analitiese en kritiese denkvaardighede, wat hulle deur die studie van formele logika en debat verwerf het, prakties kon toepas, asook die toepassing van die beginsels van retoriek. |