Diefstal van ouer bakkies neem toe PDF Print E-mail
News - Aktueel
Thursday, 10 December 2009 15:44
Untitled Document

Die jongste vlaag diefstal van veral ouer bakkies het geweldig toegeneem in die groter Bronberg-gebied in November. Dié diefstalle gaan gepaard met vergiftiging van honde.

So sê inspekteur Francois Nolte van die Boschkopse Polisiestasie. Hy het ’n waarskuwing aan die publiek gerig wat sê dat honde, indien moontlik, tussen middernag en 3 vm binne-in die huis gehou moet word, veral nadat dit in die voornag gereën het.

Die boewe gebruik Temik, ook bekend as “two step”, in maalvleis of polonie om honde mee te vergiftig. Die aktiewe bestanddeel in dié gif is aldicarb, ’n uiters vinnig-werkende gifstof.

“Indien jou hond besig is om daaraan te vrek, keer ander honde en kinders om hom te gaan help. Selfs die skuim van sy bek kan noodlottig wees,” waarsku Francois.

Hy sê dat voertuie beveilig kan word deur die vonkverdeler (‘rotor’) of ’n ander onderdeel wat dit sal immobiliseer oornag uit te haal.

Terwyl die boewe probeer om die dooie motor aan die gang te sit, gee dit jou kans om jou Conserv bure te kontak om die boewe te help voorkeer sodat die polisie hul kan vastrek. Die boewe het gewoonlik koperdraad en ’n saaglem in hulle besit. Die lem word gebruik om die rathefboom af te saag as daar ’n ratslot aan is.

Francois sê dat ’n mens lig moet loop vir dié boewe omdat hulle gewapen mag wees.

Skakel die volgende noodnommers: Conserv by 083-655-1315 of die Boschkopse polisie by 082-557-6996. Sleutel ook jou naaste buurman se nommer in op jou telefoon.

 

© 2019 Die/The Bronberger