Kontrakteur stoot historiese erfenis plat PDF Print E-mail
News - Aktueel
Thursday, 10 December 2009 20:43
Untitled Document

Stigting Simon van der Stel is vyftig jaar oud en sy Pretoriatak, die Tshwane Geboue-erfenis Vereniging, het ’n halfeeu van bewaring op Saterdag 21 November herdenk.

Die geleentheid is by die historiese 1880 Rademeyer-opstal in die Moreletapark Natuurreservaat gehou.

Saam met die aankondiging dat vyftig jaar van bewaring herdenk word, was daar egter ook slegte nuus. Die historiese Doors Erasmus-geboue, ruïnes wat dateer uit die 1830’s op die oewer van Apiesrivier oorkant die Wonderboom, is op 12 November gesloop deur tot sover onbekendes.


Die Doors Erasmus runes voor hul platgestoot is
Foto: Beeld

Gesloop
Anton Jansen, hoof uitvoerende beampte van die Tshwane-geboueerfenisvereniging, sê dat Tshwanemetroraad ’n subkontrakteur aangestel het om indringerplante op die terrein te verwyder.

“Die kontrakteur het egter besluit dit sal veel makliker wees om die werk met ’n stootskraper gedoen te kry. Hy het al die murasies omgestoot terwyl daar nie permitte daarvoor uitgereik was nie.”

Anton sê dat hulle nou besig is om regsadvies in te win en wil die subkontrakteur dagvaar ingevolge wetgewing oor die bewaring van erfenisterreine.

Die maatskappy aan wie die perseel behoort, Magauta, het die perseel gekoop juis om die kulturele erfenis te bewaar. Rosella Dingle, woordvoerder van Magauta, sê die perseel is steeds ’n erfenisterrein en die grafte van Doors Erasmus en sy seun, Stephanus Petrus, wat in die varkhok herbegrawe is, bestaan darem nog.

Die stryd om historiese geboue te bewaar is een wat begin is in 1959 toe die Stigting Simon van der Stel in die Kasteel in Kaapstad in die lewe geroep is. Dié stigting het landwyd takke gehad en is vernoem na die eerste persoon in Suid-Afrika wat bewaringswetgewing uitgevaardig het, die destydse Goewerneur van die Kaap, Simon van der Stel wat van 1679 tot 1699 gelewe het.

Die Pretoria-tak van dié stigting het in 1999 sy naam verander en is vandag die oudste en grootste geboueerfenisvereniging in die land. Sy doel is om die unieke verskeidenheid bouwerke wat die diversiteit van dié omgewing se kulturele samestelling weerspieël, te bewaar.

“Die bewaring en behoud van ons gemeenskaplike erfenis stel ons en ons nageslag in staat om ’n groter begrip te ontwikkel vir ons geskiedenis en ons identiteit,” sê Anton Jansen. “Om ons gesamentlike nalatenskap te koester, is ’n taak wat alle inwoners se harte behoort te raak.”

Die vereniging poog om restourasie te bevorder deur advies en hulp te verleen, en om die owerheid en publiek aan te moedig om historiese geboue en terreine te bewaar en te benut.

Gereelde uitstappies na historiese terreine en geboue met kundiges as toerleiers word gehou. Vir meer inligting, bel vir Anton Jansen by 083-653-0982.

 

© 2019 Die/The Bronberger