Ryperd los probleem op Print E-mail
News - Briewe
Friday, 20 October 2023 08:00
Untitled Document

Betsie Steyn van Kleinfontein:
Na aanleiding van die artikel oor Minke Bekker in die Augustus-uitgawe, het oom Hannes Opperman ’n interessante brokkie oor die belangrikheid van perde.

Hy was tot 1976 by die parke-afdeling van die stadsraad van Pretoria as seksievoorman betrokke. In die laat 1970’s is hy na die Waltloo lisensiëring-toetssentrum oorgeplaas en het in die oostelike dele van die stad die tuinbou- en sportterreine behartig.

Oom Hannes het geweet dat die mense by die Rietvleireservaat se parke-afdeling sukkel om die terrein te patrolleer en te inspekteer, omdat die gebied onrybaar vir voertuie was. Hy het genoem dat ’n perd die oplossing sal wees.

In daardie stadium het oom Hannes ’n amptelike huis gehad. Hy het die grond omhein en beeste, skape, bokke en twee ryperde daar aangehou. Sy twee seuns het oral daar rondgery. Toe bied hy vir die opsigter by Rietvlei, Piet Pretorius, ’n perd aan om te help met die probleem – gratis.

Piet Petoors het die perd by oom Hannes gaan haal, opgesaal en teruggery Rietvlei toe – maklik sowat 25 km ver. So is die probleem opgelos en hulle kon oral op onbegaanbare plekke inkom om hulle werk te doen.

 

© 2024 Die/The Bronberger