Heerlike gevoel en pastei in Cupps Print E-mail
News - Vreethans
Wednesday, 20 February 2008 02:00

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Ek vermy gewoonlik kuierplekke binne in winkelsentrums. Ek vermy eintlik winkelsentrums sover as wat dit menslik moontlik is. Maar soms bevind jy jou tog, teen jou sin, in een van die gebied se “mall-huise”. En soms word jy honger en dors terwyl jy jou aldaar bevind.

Só het dit dan gebeur dat ons by Cupps in die Glenn Village-sentrum beland het. Cupps se grootste gros tafeltjies is buite in ’n straatkafee-effek staangemaak, maar ons gaan sit binne. Binne kan jy rook en binne is ’n groot plat TV-skerm wat met gedempte klank die krieket of rugby wys.‘n Vreemde ding het met my gebeur toe ek my sit in Cupps kry. ‘n Heerlike gevoel het my oorspoel.’n Gevoel dat ek weg is. Weg van die benoude, vasgekeerde gevoel wat ‘n “mall” my altyd gee. Binne in Cupps is dit vriendelik en knus. Die verwelkomende reuk van goeie koffie hang sterk in die lug.


As jy eers binne in Cupps is, voel dit of jy ?weg? is

Die spyskaart vertel my gou dat Cupps groot is op ontbyt. Meer as twintig kombinasies van verskillende‘substansiële’, Engelsagtige ontbyte om van te kies. Dit is buiten die verskillende omelette en sogenaamde gesondheidsontbyte. Cupps is een van die min plekke wat nog ’n kipper-brêkvis, Franse roosterbrode, en gesmoorde haddock as oggendkos gee. Die meeste kombinasies kos tussen R30 en R40.Hoewel ek nogal getempteer is, besluit ek dat twee ontbyte op een dag nie doenlik is nie en dit is hoeka al middag verby.

Die plekkie bied ’n groot verskeidenheid toebroodjies, twisters en wraps, burgers en Prego’s. Metgesel kyk nie veel verder as die pastageregte nie en bestel een wat hoender, sampioene (dis mushrooms, Harry) en roomspinasie, gedoen in ’n knoffel- en witwynsous belowe.

My oë bly terug dwaal na die tuisgemaakte hoender- of beesvleispasteie, al oorweeg ek ook die rump van 300 g teen R40. Ek was later dankbaarbly dat ek uiteindelik op die beespastei besluit het. Dis’n aansienlike ‘pie’ in ’n keramiekbakkie gedoen en met ’n wonderlike kors bedek. Die beesvleisblokkies is smaaklik, sag en sousig. Vir sommiges sal dit dalk te sout wees, maar vir my is hy net reg. Dit kom saam met ’n stewige, baie vars slaai. Dit is duidelik dat Cupps iemand in sy kombuis het wat kosmaak ken.

Die pastei kos R40 en is een van die aangenaamste verrassing wat ek tot nog toe in enige Bronbergkuierplek ervaar het.


Die beste beespastei in die Bronberg

Metgesel se penne-kombinasie in’n diep bord sit ’n tevrede glimlag op haar fraai gesiggie. Dit kos R39. Die rooiwyn per glas is baie billik geprys en die skotse wyn ook. My ervaring by Cupps het gemaak dat ek dalk voortaan vrywillig na minstens een winkelsentrum toe sal gaan.

 

© 2024 Die/The Bronberger