Sophie Breytenbach van Mooiplaats:
Ons kry die Bronnie al van sy eerste uitgawe af en het deur die jare sommer baie goeie diensleweraars opgespoor. Een van die wat uitstaan was Noodkreet. Dis nou regtig nodig om Johann aan jou kant te hê as die water uit jou pype spoel of dalk glad nie spoel nie!
Nog een wat uitstaan is Swawel Vet. Hierdie veeartse het al menige krankheid en pyne van ons diere-kinders opgelos. Dis nie al nie: hulle het ook saam met ons die pad geloop wanneer een van die dierekinders nie meer verder kon leef nie.
So was dit ook aan die begin van hierdie jaar toe Greta, ons Alsatian-meisiekind van meer as nege jaar oud, nie meer kon nie. Ek was die een wat haar vir oulaas in die kar gelaai het en sy – tot my vreeslike verdriet – was heel opgewonde oor die rit, min-siende en al.
By die praktyk is sy vir oulaas saam met my die spreekkamer in en is sy gemaklik gemaak met haar ounooi heeltyd dig aan haar sy. Die inspuiting was sag en genadig en sy het aan die slaap geraak met haar kop op my arm.
Om my het dit stil geraak en agterna moes ek uitvind almal in ontvangs is gevra om net ’n rukkie stil te wees saam met my en Greta. Die spesiale kers in die voorportaal is aangesteek. Die personeel was almal simpatiek en ek het gewonder hoeveel keer moet hulle maar saam hartseer wees by ’n droewige afskeid.
Ek het ’n pragtige pers simpatie-kaartjie met Greta se sterfdatum daarop gekry en ’n afdruk van haar poot. Dis geraam en hang teen my muur saam met die ander dierekinders se foto’s.
Dankie aan Swawel Vet vir al die kere wat julle ons bygestaan het, selfs as julle raad op is en ’n lewe moes eindig. |