PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Wednesday, 18 November 2009 08:44
Untitled Document

Zwavelpoorter, Hennie du Plessis, was een van die voëlfotograwe wat gehelp het om bykans 400 voëlsoorte op een dag, Saterdag 24 Oktober, af te neem. Die mikpunt was om 350 voëlspesies dwarsoor die land af te neem as deel van die wêreldwye 350-veldtog om mense bewus te maak van klimaatsverandering.

Dié syfer is as tema gekies omdat dit die aantal deeltjies koolstof per miljoen deeltjies van die atmosfeer is wat die aarde se atmosfeer kan hanteer. Die huidige vlak het egter reeds tot 390 gestyg.

‘Birdlife SA’ en ‘Birding SA’ het tot die bewusmakingsveldtog bygedra deur ’n uitdaging aan alle voëlliefhebbers te rig om soveel as moontlik van ons land se 850 inheemse voëlspesies af te neem. Sowat 16 000 foto’s is van 274 fotograwe ontvang. Die foto’s is op die webwerf http://350.birdingafrica.com gelaai.

Kroonkiewiet
Hennie se kroonkiewiet en blouvalk is ou bekendes in die Bronberggebied. Die kroonkiewiet, Vanellus coronatus, is 30 cm lank, het lang bene en ’n kenmerkende ‘kroon’ op die kop, wat soos ’n swart mus onderbreek deur ’n wit stralekrans, lyk.

Hulle sê kiewiete maak die beste ouers in die diereryk omdat hulle vir niks stuit as die nes bedreig word nie. Daar is gevalle opgeteken van kiewiete wat ’n trop olifante van roete laat verander het.

Dié voëls kan redelik mak word, maar sal nie huiwer om mense en diere van hul neste te verjaag nie. ’n Kiewiet kan selfs maak of hy ’n beseerde vlerk het om roofdiere en mense na hom toe te lok en in die proses die aandag van die nes af te trek.


Kroonkiewiet
Foto?s: Hennie du Plessis, Zwavelpoort

Blouvalk
Die blouvalk, Elanus caeruleus, is ’n klein valkie met lang, gepunte vlerke en ’n vierkantige stert. Sy gevoude vlerke strek verby sy stert as hy sit. Hy is grys en wit met swart op sy skouers en het rooi oë.

Dié valkie spandeer die grootste deel van die dag op kragpale, drade of in dooie bome waar hy vir prooi sit en wag. Hy verander nie sommer van gebied nie en migreer glad nie. Die grootte van ’n blouvalk se gebied word deur die beskikbaarheid van prooi bepaal – hoe meer prooi, hoe kleiner elke blouvalk se gebied.

Blouvalke kom in paartjies voor en alhoewel hulle nie saam jag nie, is hulle nooit ver van mekaar af nie. Blouvalke slaap in die aande in bome en is een van die eerste voëls om in die oggende te begin vlieg. Partykeer kan groepe van 15 tot 120 blouvalke buite die broeiseisoen in dieselfde boom slaap.


Blouvalk

 

© 2019 Die/The Bronberger