Drank slaan selfs filosowe dronk PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Wednesday, 18 November 2009 06:39
Untitled Document

Drank slaan slim ouens en filosowe nou al vir eeue lank dronk. En as ’n ou nugter daaroor dink, maak drank geen sin nie. Tog doen die mens al van vroegste tye af vrywilliglik en geesdriftig mee aan dié gewoonte, welwetend dat sy kanse goed is om langs die pad ’n allemintig krater van homself te maak.

Vat nou maar die ding wat nou die anderdag met ou Koen gebeur het. Nou sal ou Koen jou self vertel dat hy nie van die gewoonte iemand is wat goedsmoeds te diep in enige bottel se keel afloer nie. Matigheid is iets wat hy graag voor die oë hou en hy glo gewoonlik daarin dat te veel van ’n goeie ding nie goed is nie. Maar soms, net soms, sê ou Koen, is te min van ’n goeie ding ook nie juis wonderlik nie.

Só was dit dan ook dat Koen en ’n span vrinde ná ’n baie suksesvolle dag op die gholfbaan by die 19e putjie vasgehaak het. Te min sou glo glad nie goed wees nie, want Koen het omtrent al wat ’n putjie is gewen en dit moes, sonder enige sprake van matigheid, ordentlik gevier word. En dit is.

Nou sê ou Koen dat hy nie iemand is wat glo in drink-en-dryf nie. Hy glo trouens nie eers in drink-en-putt nie, sê Koen. Hoe dit ook al sy, toe dit baie later by huistoegaantyd kom, het hy maar besluit om sy kar daar by die klubhuis te los en iemand meer kapabel te vra om hom huis toe te vat.

Snaakse ding is dat hy om te dood nie kan onthou wie die gawe ou is wat ingestem het om dit te doen nie. Nog ’n snaakse ding, noudat hy daaraan dink, sê Koen, is dat al sy pêlle dié aand op sy gesondheid gedrink het en toe val hy ’n paar keer om en was hy op die koop toe die volgende dag so siek soos ’n hond.

Maar hy is toe saam met sy weldoener in dié se motor en hy wat Koen is, verduidelik die pad huis toe. En so ver hulle ry en hy verduidelik van ‘hier links en daar voor weer links en dan regs’ en só, hoe meer bekommerd raak hy oor die ontvangs wat by sy woonplek op hom wag. Dis immers baie laat en sy Rita glo nie soos hy dat te veel van ’n goeie ding tog soms eintlik goed kan wees nie.

Hy besluit hy sal maar so saggies moontlik by sy huis insluip met die hoop dat Rita slaap. Dan sal hy op die bank loop slaap en vir sy vrou die volgende dag sê hy wou haar nie steur nie. En as sy dalk wakker is of word, het hy darem die ‘hot tray’ wat hy vir naaste-aan-die-pen gewen het, om as soenoffer aan te bied.

Hy verduidelik vir sy weldoener om by die derde huis van die hoek af stil te hou en is sonder veel moeite met sy gholfsak oor sy skouer, sy ‘hot tray’ onder die arm en die voordeursleutel in sy hand by die voorhekkie in en voetjie-vir-voetjie versigtig met die tuinpaadjie langs.

Die moeilikheid het begin toe hy vlak by die voordeur oor die slapende hond struikel en met die verskriklikste geraas van vallende gholfstokke en sleutels, ’n benoude, tjankende hond en ’n ‘hot tray’ wat in duisende stukke spat, op die stoep neersloeg.

Hy sien ligte in die huis word aangeskakel en hy weet hier kom groot moeilikheid. Met die ‘hot tray’ in sy glorie in, pluk hy met koorsagtige haas ’n groot bos rose van die pragtige bos wat vlak by die stoep groei. Hy dink nie eers aan die dorings of aan sy arme, bloeiende hande nie. Iets moet hy vir Rita as soenoffer aanbied en sy hou tog so van rose.

Toe ’n wildvreemde, omgekrapte man met ’n gholfstok, nogal, dreigend bokant sy kop gelig, die deur oomblikke later oopmaak, het die vreeslikheid van ’n ontroue vrou eers sy benewelde gedagtes geskud. En toe onthou hy. Hy wat Koen is, het nie ’n hond of ’n roosbos nie . . .

 

© 2019 Die/The Bronberger