Mampuru se laaste oomblikke Print E-mail
News - Toeka se dae
Wednesday, 20 February 2008 02:00
Untitled Document

In November 1883 is die Bapedi kaptein, Mampuru, in Pretoria ten aanskoue van mede-gevangenis tereggestel. Dit is sover bekend die enigste openbare teregstelling wat in Pretoria gehou is. Die Bronberger het onlangs ’n foto van dié gebeurtenis saam met ander ou foto’s van die gebied bekom. In 1882 is Sekoekoeni, hoofman van die Bapedi, deur sy halfbroer, Mampuru of Mampoer, soos hy algemeen bekend gestaan het, vermoor.


Die teregstelling van Mampuru in Pretoria, 1883 (CD)

Mampoer het geweier om hom aan die Transvaal se owerheid te onderwerp en het by die naburige Ndebele stam van Mapoch (ook bekend as Njabel) skuiling gesoek. President Paul Kruger en Generaal Piet Joubert het sterk teen Mapoch en Mampoer opgetree. Joubert het in Oktober 1882 twee duisend man opgekommandeer en uit beweeg teen die rebelse kapteins. Die twee en hulle volgelinge het posisie ingeneem in die grotte by Boschberg en Vlugtkraal. Lede van die Pedi stam het hul by Joubert se kommando aangesluit om die moord op hul kaptein, Sekoekoeni te wreek.


Genl Piet Joubert

Joubert se manskappe het die skuilplek omsingel en die voortvlugtige kapteins uitgehonger. Die kapteins het sterk weerstand gebied, maar uiteindelik is Mapoch met dinamiet uit sy skuilplek gedryf. Teen die winter van 1883 het albei kapteins oorgegee. Mampoer was tot die dood veroordeel.

Mapoch is ook verhoor en tot die dood veroordeel, maar sy vonnis is later versag tot lewenslange tronkstraf.

 

© 2020 Die/The Bronberger