Restauranteienaar beroof PDF Print E-mail
News - Aktueel
Wednesday, 18 November 2009 06:49
Untitled Document

Die eienaar van Ed’s Place in Tierpoort, Karin Saffy, is op Dinsdag 10 November by haar huis deur vyf gewapende mans aangerand en beroof. Haar huishulp is ook aangerand.


Karin Saffy

Dit blyk dat ’n onwettige immigrant van Zimbabwe wat vir vyf jaar in Karin se diens was, die aanval beplan en help uitvoer het.

Volgens Karin het sy die werker, ene Geofrey, Saterdag afgedank ná hy in ’n bakleiery betrokke was en al die vensters van die personeelbehuising gebreek het. Hy het ook ’n selfoon van haar gesteel.

Karin het die man tot Dinsdag kans gegee om sy kamer te ontruim. Op Dinsdag het hy by die huis opgedaag en gevra of Karin seker is sy wil hom nie sy werk teruggee nie. Toe sy nee sê, is hy daar weg, maar tien minute later het hy haar weer na buite geroep.

Toe sy by die deur kom het ’n ander man met ’n pistool haar die huis binnegedwing en haar begin slaan. Die man het gesê sy moet haar klere uittrek, want sy het sy ‘broer’ verneuk en hy gaan haar ’n les leer.

Karin het gesê sy sal vir hulle die kluis oopsluit en hulle kan alles vat wat hulle wil hê. Toe hulle by die deel van die huis ingaan waar die kluis is, het die mans haar huishulp, Anna, ook begin aanrand en dreig. Hulle het kontant en ’n vuurwapen uit die kluis gegryp.

Nog drie mans het hulle by die bende aangesluit en hulle het deur die huis gesoek vir nog goed om te vat. Kort daarna is die vyf boewe met ’n wit Toyota bakkie met verdonkerde ruite daar weg.

Karin het Bassek en die Welbekendse polisie gebel en later ’n e-pos aan die veiligheidsforum gestuur. Sy sê Bassek was binne vyf minute op die toneel en die polisie binne 15 minute. Sy is baie beïndruk met altwee se professionele optrede op die toneel.

Karin meen ’n belangrike les wat almal uit die voorval kan leer, is om nie mense sonder ’n SA ID in diens te neem nie.

 

© 2019 Die/The Bronberger