Ons is dankbaar oor die wonderlike terugvoer oor die Bronnie wat lesers en adverteerders aanhou stuur. Deurgaans is dié soort woorde die motivering wat help om Die Bronberger bykans 21 jaar reeds koers te laat hou.
Met ons geliefde Gerhard Kleijn se afsterwe was die vraag op almal se lippe op welke manier die Bronnie voortgaan. Jarelange adverteerder, Jakes Stadler van Legends Power Holdings, het dié vraag so geantwoord: “Dit wil vir my lyk of julle dit asof-gewoon doen. Dankie vir die geleentheid om steeds die wyer ‘ons-mense-groep’ aan ons produkte en dienste te kan herinner deur dié besonderse publikasie.”
Getroue lesers en adverteerders se positiewe terugvoer dra daartoe by dat nuwe lesers en adverteerders die Bronnie ontdek. Hier is ’n paar uittreksels uit enkele briewe:
Adéle Bester van Broodblik en Koffiepit: Baie dankie vir ’n puik glanstydskrif waarin ons kan adverteer. Ons eie 20 jaar suksesverhaal is deels te danke aan julle, wat ons deel maak van julle tydskrif.
Isabel Groesbeek van Lynnwood Glen: Baie dankie vir die waarde wat julle vir sakebelange en die gemeenskap toevoeg, maar ook veral vir julle ondersteuning van kulturele aktiwiteite en -erfenis.
Mariet van Niekerk van Tierpoort: Baie geluk met ’n puik omgewingstydskrif. Ek onthou ons was van julle eerste winkels wat advertensies geplaas het. Seker vir 10 jaar lank elke maand. Mag julle in sterkte groei.
Mauritz Meyer van Pretoria-Oos: In hierdie negatiewe tyd is Die Bronberger ’n ligpunt en ons is baie bevoorreg om elke maand so iets moois te kan kry. Hou so aan, want die tydskrif is een groot vreugde.
Sophie Breytenbach van Pretoria: Ons kry al Die Bronberger vanaf die eerste verskyning en lees dit van die voorblad tot agter. Deel van ons lees gaan oor die advertensies. So het ons deur die jare baie goeie diensverskaffers ontdek en van party is ons al jare lank kliënte.
Yvette Otto van Cullinan: Waardeer julle harde werk om so ’n spogtydskrif met soveel mense te deel. Julle gebruik julle skryftalente tot voordeel van ’n wye gemeenskap. Dankie, ek is trots om deel van die Bronnie se leefruimte te wees.
Johann de Bruin van die SP Engelbrecht Museum: Puik! Geen ander woord om hierdie kleinood Bronnies te beskryf nie. Dit verryk en besiel, hou ons ingelig en gestimuleer.
Magda Cloete van Constantia Park: Julle tydskrif is deur die gemeenskap vir die gemeenskap.
Julle het regtig ’n baie besondere tydskrif. |