Wagte en werkers by wateraanleg aangeval Print E-mail
News - Aktueel
Thursday, 16 March 2023 10:33
Untitled Document

Aanvalle op sekuriteitswagte en beskadiging van toerusting is glo die rede hoekom dele van Bronkhorstspruit vir weke lank sonder water sit.

Raadslid Johannes Bekker het op 27 Februarie laat weet dat dié aanvalle en beskadiging by die Bronkhorstspruitse rou water behandelingsaanleg vyf opvolgende kere in ’n kort ruk gebeur het. Sekuriteitswagte is ernstig in dié aanvalle beseer en daar is groot kommer oor die veiligheid van amptenare.

Terwyl daar aan ’n noodplan gewerk word, ry tenkwaens daagliks water vanaf Cullinan en Rayton na Bronkhorstspruit aan. Dié water word deur Magalies Water op Cullinan gesuiwer en hoogliggende dele van dié dorp is sedertdien op ’n bykans daaglikse basis vir ure lank sonder water.

Raadslid Lex Middelberg het teen die einde van Februarie aan munisipale bestuurder, Johann Mettler geskryf dat 15 dae sonder water reeds verby is vir Ekandustria, Ekangala, Zithobeni X8 en X9 en Rhetabiseng.

Lex het geskryf dat Bronkhorstspruit se industriële gebied, Ekandustria, lamgelê word deur die gebrek aan water en dat dit werkgeleenthede in gevaar stel. Hy sê dat gemeenskapsverteenwoordigers aan hom vertel het dat daar geen teken is van herstelwerk aan die pompe en die watersuiweringsaanleg nie.

Volgens Lex is die totale ineenstorting van die stelsel die gevolg van ’n gebrek aan onderhoud en die feit dat daar nie geluister is na waarskuwings oor korrupsie deur kontrakteurs wat deur die munisipaliteit aangestel is om aan die pompe te werk nie.

Streekshoof, Jabu Mabona, het laat weet dat daar meganiese probleme by die Bronkhorstspruitse rou wateraanleg is en dat kontrakteurs ingekry is om die pompe te herstel. Hy het raadslede versoek om die watertenkers na die geraakte gebiede te koördineer.

Jabu het bevestig dat werkers en sekuriteitswagte by die suiweringsaanleg in ’n gewapende aanval beseer is en dat die polisie met ondersoeke besig is. Sekuriteit is verhoog en Jabu het gevra dat enige iemand met inligting oor dié aanvalle die polisie moet kontak.

Gerugte en bewerings dat die polisie ondersoek instel na sindikate wat betrokke is by die watertenkers en wat moontlik vir die aanvalle en vertragings verantwoordelik is, kon nie amptelik bevestig word nie.

 

© 2024 Die/The Bronberger