Wie is Funani en Bone? Print E-mail
News - Kommentaar
Wednesday, 18 November 2009 08:11
Untitled Document

Al ooit gehoor van Funani Kovoet Masemola? En wie op aarde is Bone Johannes Mokwena? Hoekom is dit belangrik om te weet wie hulle is? Wel, as jy op Zwavelpoort of Kleinfontein bly, gaan Funani en Bone bes moontlik eersdaags jou buurmanne wees, of dalk selfs die trotse nuwe eienaars van jou grond. Funani en Bone is twee van die 23 eisers wat nou aanspraak maak op groot gedeeltes van die groter Bronberg-gebied.

Maar hoe is dit dan moontlik? Die spertyd vir die indiening van eise kragtens die regering se grondhervormingsbeleid het mos lankal verval, kan jy tereg vra. Ja, dit is waar, sê Gauteng se grondeisekommissaris, maar die eise is lankal ingedien. Hulle was tot nou toe net te besig om daarby uit te kom. En wat dan van die vereiste dat ‘hervormingsgrond’ ná 1913 in die besit van blankes moes gekom het? Die plase in die hele Bronberg-gebied is immers baie lank voor 1913 reeds gevestig. Dié probleempie word maklik omseil deur ’n sinnetjie in die beleidsdokument wat verklaar dat die herverdeling van grond dit ten doel het om ‘grondhonger’ en die onregverdige verdeling van grond aan te spreek.

Só, dit maak geen duit saak of Funani en sy mede-eisers enige historiese reg op die grond het nie, net solank hulle ‘grondhonger’ is. Die grond waarvoor die 23 Bronberg-eisers verkies om ‘honger’ te wees is weens ontwikkelingsvooruitsigte en ander faktore seker van die waardevolste grond in die land. Maar dit is grootliks van min landbouwaarde, soos die regering self ’n klompie jare gelede bepaal het. Vreemd dat die voornemende ‘boere’ dan juis in dié grond sou belangstel. Dit verteenwoordig ’n gebied waar gemeenskappe jare reeds stewig gevestig is. Sou die eise suksesvol wees, sal dit neerkom op die gedwonge verskuiwing van gemeenskappe wat net so erg of dalk erger sal wees as enige derglikhede waarvan die vorige regime verkwalik word.

Spesiale Kersuitgawe
Hierdie is jou kans om deel te word van Die Bronberger se baie spesiale Kersuitgawe. Die afgelope sewe jaar het ons spesiale Kersuitgawes baie gewild geword by lesers en adverteerders. Die uitgawe verskyn reeds voor die skole vir die Desembervakansie sluit en is net betyds om almal genoeg blootstelling voor die groot koopstormloop en die vakansie-uittog te gee. Besprekings vir advertensies sluit op Woensdag 2 Desember. Lesers word terselfdertyd genooi om hulle Kerswense gratis in die vorm van ’n kort briefie op dié besondere manier oor te dra. Stuur jou briewe na This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it of faks dit na 086-650-7860. Vir inligting oor advertensies, bel vir Tania by 072-089-0227 of bel ons kantoor by 012-996-1170 of 012-940-0085.

 

 

 

 

 

 

© 2020 Die/The Bronberger