Waar is die Boschkoppad se spookfietse? Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 20 January 2023 12:58
Untitled Document

Vonke spat gereeld tussen fietsryers en motoriste op die Boschkoppad en Grahamweg (Lynnwoodweg-verlenging). ’n Mens sou dink dat een van die wêreldwyd-bekende spookfietse teen dié tyd al daar staangemaak sou wees.

Spookfietse is fietse wat spierwit geverf is en neergesit word op plekke waar fietsryers deur voertuie doodgery is. Die globale ritueel dien deels as protes-simbool en deels as gedenkteken. Hulle dui individuele lewensverlies aan, maar ook die uitdagings wat stede met toenemende verkeer moet hanteer.

Daar is mense wat sê dat so ’n spookfiets onmiddellik langs die Bronberg-gebied se paaie gesteel sou word vir skrootmetaal. Dit is ’n wonder, sê hulle, dat die raaiselagtige spookfiets wat vasgeketting op Fort Klapperkop staan, nog nie gesteel is nie.

Storie
Estelle Labuschagne het onlangs op ’n sosiale media kletsgroep gevra of iemand die storie agter dié fiets ken. Sy het gesê dat sy al 26 jaar lank doodsondersoeke doen by die Sunnyside SAPD en dat Klapperkop binne dié polisiestasie se gebied val. Sy weet nie van iemand wat op die Fort Klapperkoppad met ’n fiets verongeluk het nie.

Antwoorde op die kletsgroep het aangedui dat die spookfiets ter nagedagtenis aan die SA Olimpiese bergfiets-atleet, Burry Stander, daar staangemaak is. Hy is in 2013 deur ’n KwaZulu-Natal taxi-bestuurder doodgery op pad terug van ’n oefenlopie.


Die spookfiets op Fort Klapperkop
Foto: Verskaf

Oefen
Dit is juis ’n fietsryklub se oefenlopies in spitsverkeer op die Boschkoppad en Grahamweg wat motoriste warm onder die kraag laat. So ses jaar gelede het inwoners van die gebied saamgespan om ’n amptelike klagte teen die klub by die sportsoort se beheerliggaam, Fietsry Suid-Afrika, te lê. Dié stap volg volgens die inwoners nadat gesprekke met die klub en selfs klagtes by die Boschkop-polisiestasie, geen verskil aan die toestand gemaak het nie.

Die klublede ry op Dinsdae en Donderdae vroeg soggens in spitstyd as motoriste die pad moet gebruik om by die werk te kom en kinders betyds by die skool te kry. Motoriste moet dan kilometers ver teen slakkepas agter die bondel fietse aansukkel. Hulle wil weet hoekom die klub nie buite spitstye ry as die pad nie so besig is nie.

Bondel
’n Woordvoerder vir die klub het destyds laat weet dat hulle lede meestal werkende professionele mense is. Hulle ry vroeg soggens sodat hulle daarna kan gaan werk. Hulle ry glo in ’n bondel omdat baie motoriste op die Boschkoppad neig om teen ’n hoë snelheid by fietsryers in enkel gelid verby te jaag. Omdat die pad nie ’n padskouer het nie en betreklik smal is, jaag motors vlak teenaan fietse in enkel gelid verby, wat lewensgevaarlik is.

Wanneer 35 fietse agter mekaar ry, skep dit ’n hindernis van by die100 meter vir motoriste om verby te steek. Fietsryers vind dit moeilik om te begryp hoe dit is dat motoriste op die Boschkoppad byvoorbeeld geduldig agter ’n stadigbewegende trekker sal wag tot daar verbykomkans is, maar nie bereid is om dieselfde agter ’n groep fietse te doen nie.

 

© 2024 Die/The Bronberger