|
Het jy gehoor? / Have you heard? - Jan2023 |
|
|
|
News -
Het Jy Gehoor
|
|
Friday, 20 January 2023 12:55 |
Untitled Document
Vir menige is Januarie maar ’n maer maand – maer in die beursie en maer in gebeure. Tog is daar ’n hele paar reservate in die gebied wat mense die kans gee om weg te breek en in die natuur te stap, draf, voëls te kyk en wild te besigtig.

Bronkhorstspruit Natuurreservaat
Bronkhorstspruit Natuurreservaat is gewild onder vissermanne, so naweke en vakansiedae kan baie besig wees. Tog is daar baie watervoëls te siene en ’n voëlskuiling naby die ingangshek van waar ’n mens enige plek in die reservaat per voet kan bereik. Daar is ’n verskeidenheid kampeerplekke langs die oewer met ablusie- en braaigeriewe. Dit is uit met die N4-Oos snelweg. Neem die afrit na die Bronkhorstspruit-Bapsfontein-pad (R25)/Kemptonpark-pad. Skakel 071-671-8655.
~*~

Rietvlei Natuurreservaat
Jagluiperds, buffels, elande en renosters tot waterbokke, sebras en swart wildebeeste is van die wildspesies in Rietvlei Natuurreservaat. Hier kan jy piekniek hou by die dam met sy groot verskeidenheid watervoëls, in ’n oornag-hut bly of kampeer. Jy kan vir nagritte gaan, op perdryroetes, op ’n 10 km dagstaproete of ’n 21 km roete waar jy deur natuurbewaarders vergesel word. Visvang word toegelaat op die noordelike en westelike oewer en daar is ’n seilklubhuis op die noord-westelike oewer. Dié reservaat is in 1948 geproklameer en bestaan uit 3 800 ha Bankeveld vanaf die dam oor vlaktes, heuwels, vleie en stroompies. Rietvlei is uit met die Delmas-pad, naby die Nellmapius/R21 kruising. Skakel 012-358-1810/1/2 of 012-345-2274.
~*~

Moreletakloof Natuurreservaat
Moreletakloof Natuurreservaat bied ’n netwerk staproetes van ongeveer 7,5 km. Die Rademeyer is 1,57 km lank, die duiker is 2,89 km en suikerbos is 3,32 km. Daar is ’n verskeidenheid voëlspesies en wild soos springbokke, blesbokke, rooibokke en sebras. Die reservaat is op die melkplaas wat Jacobus en Cornelia Erasmus in die vroeë 1800’s besit het. In 1877 het Carel Erasmus die plaas gekoop en ’n drie-slaapkamer huis gebou, wat vandag die kapel is. Sy skoonseun, Johan Marneweck, het in 1903 die huis gebou wat vandag ’n restaurant is. Moreletakloof is uit met Hans Strijdomrylaan (Solomon Mahlangu). Draai in by Rubensteinrylaan en links in Heliosstraat, waar parkering beskikbaar is. Stuur ’n e-pos:
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
.
~*~

Faerie Glen Natuurreservaat
Daar is drie wandelroetes in Faerie Glen Natuurreservaat: Hadida is 2,3 km lank, Akasia is 3,2 km lank en Kiepersol is 4,2 km lank. Dié 128 hektaar reservaat is rondom die Rhenosterkop gedeelte van die Bronbergrif geleë. Hier is diere soos sebras, kleinkolmuskeljaatkatte, muishonde, groototters, hase en krimpvarkies en ’n groot verskeidenheid voëlsoorte. Die veld is tipies van ’n oorgangsone tussen Bankeveld, suur gemengde bosveld en Akasia-veld. Die ingang is uit January Masilelarylaan (Louis Botharylaan). Stuur ’n e-pos:
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
, besoek www.fgnr.co.za of skakel 072-275-0614.
~*~

Boardwalk Voëlpark
Boardwalk Voëlpark is ’n twee hektaar reservaat langs die restaurante in die Boardwalk-sentrum in Faerie Glen. Hout loopvlakke is al langs die dam gebou om ’n rustige atmosfeer te skep en daar is voëlskuilings op strategiese plekke, wat mense toelaat om die watervoëls te bekyk. Uit Solomon Mahlangurylaan (Hans Strijdomrylaan) draai oos in Haymeadowsingel. Die voëlpark is aan die noordekant van die pad. Skakel 012-358-1510. |
|