Inwoners het tot 4 Februarie tyd om kommentaar te lewer oor die omstrede museum teen die noordelike hang van die Bronberg. Dié deel van die berg se sanderige grond is waar die krities bedreigde Juliana Gouemol voorkom.
Die 4,9 hektaar grootte perseel, naby aan Life Wilgers Hospitaal, is op die restant van gedeelte 40 van die plaas Willows 340 JR, Denneboomweg, Die Wilgers.
In ‘Omstrede museum op Bronberg gebou’ in April 2021 het ons berig dat mense tot 12 April tyd gehad het om as belanghebbende partye te registreer in die projek se openbare deelname proses, wat deur Leap Enviro gereël word. Gwen Theron van Leap het aan Die Bronberger verduidelik dat die aansoek is om die bestaande geboue en grondgebruike wetlik te kry.
Aansoek is gedoen vir ’n museum met aanvullende dienste. Die projek aansoeker, Vendor Management Solutions (Edms) Bpk, het toe reeds met die konstruksie van die museum, fasiliteite en ’n parkeergrond, begin. Die doel is om ’n groot versameling antieke toerusting, insluitende militêre voertuie, daar uit te stal.
Kennisgewing is gegee in terme van Wetsartikel 24(G) saam met Wetsartikel 24(F) van die Nasionale Omgewingsbestuurswet dat die Gautengse Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling (GDLLO) ’n aansoek oorweeg vir regstelling van die onwettige aanvang van gelyste aktiwiteite in terme van omgewingsimpakassessering-regulasies.
Die perseel teen die noordelike hang van die Bronberg
Bron: Leap
Die gelyste aktiwiteite is die ontbossing van ’n gebied van een hektaar of meer van inheemse plantegroei en ook die opruiming van ’n gebied van 300 vierkante meter inheemse plantegroei wat binne ’n kritieke biodiversiteitsarea, wat in biostreeksplanne geïdentifiseer is, val.
Op 15 Desember 2022 het Gwen van Leap laat weet dat die konsepverslag oor die onwettige uithaal van inheemse plantegroei vir die konstruksie van ’n museum op die perseel by GDLLO ingedien is.
Gwen verduidelik dat militêre versamelaars maandelikse vergaderings en sosiale geleenthede by die perseel aanbied. Dit was so suksesvol dat die eienaar graag die museum aan die publiek wil oopmaak. Die eienaar het begin om die museum te bou, maar toe die argitek die planne begin optrek, is daar besef dat die gebou toestemming gaan benodig en dat die ontwikkeling wettig gemaak moet word in terme van stadsbeplanning en omgewingsmagtiging. Aansoek is dus gedoen om ’n museum en werkswinkel op die perseel te laat goedkeur.
Dié konsepverslag kan op Leap se webtuiste, www.leapenviro.co.za, afgelaai word. Gaan na “Willows Rem 40 / Draft Report directive of 11 March 2022”.
Die verslag lui dat alle bestaande geboue behou sal word en dat geen rehabilitasie dus nodig sal wees nie. Geen verdere geboue gaan opgerig word nie en geen verdere veranderings gaan aan die buite-gebiede gemaak word nie.
Belanghebbendes het in die openbare deelnameproses aangedui dat hulle besorg is oor die Juliana Gouemol. Volgens die verslag het die studies nie oortuigende bewyse gelewer dat molle op die perseel voorkom nie. Die verslag lui dat ’n Juliana Gouemol-bestuursplan in plek is met maatreëls wat oor ’n tydperk ingestel sal word om die beweging van dié molle deur die perseel toe te laat.
Belanghebbendes was ook besorg oor die verlies van habitat op die plekke waar strukture opgerig is. Die verslag lui dat die meerderheid strukture gebou is op ’n “bestaande voetspoor” en die res op klipbanke.
Die verslag lui ook dat belanghebbendes in die openbare deelnameproses gekla het oor visuele impakte en dat ’n visuele impak-assessering gedoen is. Groen skerms word voorgestel om die impak te versag en ligbesoedeling moet geminimaliseer word sodat dit nie naburige inwoners pla nie, wild versteur of inmeng met verkeer nie.
Belanghebbendes het ook gekla oor die groot vragmotors wat deur residensiële gebiede beweeg en die geraas uit die werkswinkel. Die verslag lui dat geraas beperk sal word tot sekere ure, dat naburige inwoners in kennis gestel moet word sou daar aktiwiteite wees wat hulle sal verontrief en dat geraas-beperkende fasiliteite gebruik moet word.
Volgens die verslag sal geen voertuie groter as residensiële afleweringsvragmotors toegelaat word om die toegangspad deur die naburige residensiële gebied te gebruik nie. Die grootste vragmotors is glo verwyder en alle personeel en aktiwiteite is van die perseel verwyder, behalwe die museum en sy personeel.
Belanghebbendes wat kommentaar oor dié aansoek wil lewer, kan tot 4 Februarie ’n e-pos stuur aan Franco McKellar by die openbare deelname-kantoor:
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
. |