Tshwane moet ná dekade se stryd geld aan grondeienaars terug betaal Print E-mail
News - Aktueel
Thursday, 15 December 2022 07:41
Untitled Document

Die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria het Stad Tshwane beveel om terugbetalings te maak aan inwoners wat al langer as ’n dekade baklei teen die ongeldige eiendomsbelasting wat hulle moes betaal. Die metroraad is tot einde Januarie gegee om aan die saak aandag te gee.

Die Bronberger het in September 2012 berig dat 350 woedende grondeienaars ten ooste van Pretoria-Oos ’n dringende openbare vergadering gehou het ná hulle munisipale rekenings ontvang het met ’n nuwe heffing, terug gedateer na 1 Julie 2011, vir sogenaamde “vakante grond”.

Dié heffings was vir grond wat voorheen onder Kungwini se munisipaliteit geval het en heffings is sonder kennisgewing of openbare deelnameproses verhoog. Regter Sulet Potterill het gesê dat ’n ongeveer 700% verhoging ingestel is.

By die destydse vergadering is ’n taakspan gevorm, wat later die nie-vir-wins maatskappy, Malvigenix gestig het, wat as die We Can Win-groep opgetree het. Teen Februarie 2013 het 549 grondeienaars reeds by die groep aangesluit.

Die groep was destyds reeds in ’n regsgeding met die metroraad betrokke toe die hof Tshwane skuldig bevind het aan onwettige fakturering van eiendomsbelasting aan eienaars van vakante grond in Lombardy Estate.

Dié nuwe tariewe was weens ’n verandering in die kategorisering van die grond. Eienaars was deel van ’n behuisingskema in die munisipale gebied van Kungwini, wat die grond as residensieel gekategoriseer het tot dit in 2011 deur Tshwane oorgeneem is. Tshwane het die grond as ‘vakant’ gekategoriseer.

Die hof het Tshwane nou beveel om die ongeldige tariewe reg te stel en die rente oor uit te werk. Grondeienaars wat te veel betaal het, moet vergoed word of krediet moet op hulle rekenings aangedui word. Elke grondeienaar moet ’n geskrewe rekening ontvang.

 

 

© 2024 Die/The Bronberger