Nee, hy lewe nog dat dit vrek,
dankie. Só sou oom Frikkie
altoos sê, sou jy hom vra hoe
dit dan gaan. “Ek lewe nog dat dit
vrek.” Oom Frikkie, ook nou al jare
reeds saliger, het in die lewe ’n hele
paar ‘sêgoed’ gehad. Vra jy hom
byvoorbeeld: “Wat sê jy nou?” soos
wat mense mos maar lief is om te
vra, dan sou hy dadelik antwoord:
“Nee, ek sê maar wat jy sê, maar
wat sê jý nou eintlik?” En sou jy hom
langs die pad raakloop en vra waarheen
hy dan op pad is, sou oom
Frikkie sê: “Nee, ek stap sommer vir
’n walk.”
Die sêgoed van ons mense gee aan
hulle ’n unieke identiteit. Dit is die
sêgoed wat ons onthou as ons aan
die mense uit ons verlede en ook in
ons hede dink. En hierdie taal, Afrikaans,
leen hom by uitstek tot die
skepping van pittige sêgoed deur
die verbeeldingryke mense wat dit
praat.
Oorlede Louw Aucamp was só ’n
verbeeldingryke mens. As ek aan ou
Louw dink, dan onthou ek sy reaksie
toe iemand hom op ’n dag daarop
wys dat hy wat Louw is, totaal en al
verkeerd is oor ’n sekere saak: “Jaa,
maar jy moet onthou,” sê ou Louw,
“dit is elke mens se onvervreembare
reg om so nou en dan ’n gat
van homself te maak.”
Koos Doep. Ek dink dikwels aan
hom en aan ons tyd saam in die
nuuskantoor van ’n Pretoriase dagblad.
En telkens onthou ek ou Koos
se standaard antwoord as iemand
driftig en omgekrap sou uitvaar oor
iets wat daai iemand, sê nou maar
Piet, nie aanstaan nie: “Ou Piet, ou
Piet, ou Piet,” sou Koos altyd eers
drie keer aanhef, “bedaar tog nou.
Onthou, die uiteinde is tog maar net
die dood . . .”
En as ek aan ’n gemeenskaplike
vriend van ons, Louis (Keppies)
Roux, dink, dan onthou ek hoe hy
homself destyds altyd aan meisies
voorgestel het as daar bladgeskud
word: “Louis Keppies Roux, as jy my
nie glo nie, kan jy proe.”
Ek onthou dikwels ’n ding wat tant
May Venter van Boekenhoutsfontein
op ’n dag gesê het toe sy
sommer in die algemeen uitgevaar
het teen mans. Destyds het ek en
my neef Proppie sporadies by tant
May se dogters gaan opsit, en die
betrokke aand was tant May duidelik
nie in ’n goeie luim nie. “Die pad
na ’n man se hart,” sê tant May toe,
“is deur sy borskas. Met ’n
broodmes.”
En die einste Proppie toe hy op ’n
dag in ’n hotel gevra word hoe hy in
die oggend van sy eiers hou:
“Liggies gekrap met die naels, asseblief.”
By die Johannesburgse skou loop ek
eendag ná jare weer vir oom Attie
Maree by die beesbeoordeling
raak.
Toe ek wil weet hoe dit dan met
oom Attie gaan, kyk hy my stip aan
met sy blou oë en sê: “Nee, vader
tyd is maar ’n gemene ou bliksem,
weet jy?”
Ek onthou ou Wim van Volsem wat
altyd gekla het dat daar “te veel
maand oor is aan die einde van sy
geld”. En ou Penne, my skooltydse
houtwerkonderwyser wat tot vervelens
toe gewaarsku het dat ons nie
“veiligheidsreëls per ongeluk moet
leer nie”.
My oorle oupa Boy het dit gehad
teen iemand wat “só onnosel is, dat
hy met sy vinger moet voel waar sy
agterent is”. En dit was my oom
Bob wat gesê het ’n sekere
prokureur is so skelm dat hy onder
’n skuilnaam bid.
Ek hoor terloops dat die ekonomie
nou so druk dat sekere ouens van
Donkerhoek hulle karre deesdae
kroeg toe moet stoot. |