Woonstelblokke langs reservaat beplan Print E-mail
News - Aktueel
Thursday, 17 November 2022 14:35
Untitled Document

Een-en-veertig woonstelle gaan op die grens van Moreletakloof-natuurreservaat gebou word. Dié ontwikkeling, wat as Erasmuskloof Uitbreiding Ses bekend sal staan, word beplan op die 1,8 hektaar oop stuk grond teen Rubensteinrylaan, waar die Rademeyerspruit in die reservaat vloei.

Die applikant, Moreleta Meander (Edms) Bpk, het aansoek gedoen om ’n residensiële ontwikkeling met verwante infrastruktuur daar te stel. Die woonbuurt sal bestaan uit vier erwe: Erf een sal 288 m² in beslag neem; erf twee 683 m²; en erf drie 11 993 m². Die private oop ruimte sal 1 090 m² groot wees.

In Julie het ons berig dat die beoogde ontwikkeling op gedeelte 88 van die plaas Garstfontein
374 JR baie vrae laat ontstaan het oor Moreletakloof, ’n reservaat van 93 hektaar, se behoud. Jeannie du Plessis, bestuurslid van Vriende van Moreletakloof, het gesê dat ’n verandering aan die volume of gehalte van die Rademeyerspruit ’n impak sal hê op die reservaat se boom- en plantspesies, die meer as 400 sampioensoorte wat al in die kloof uitgeken is en wat die klammigheid nodig het, en die meer as 100 bokke, sebras en volstruise. Die reservaat is ook bekend vir sy baie voëlspesies omdat die kloof ’n natuurlike woud langs die spruit vorm.

Plan
Omgewingskonsultante vir die beoogde ontwikkeling, Landscape Architects and Environmental Planners (Leap), het gesê dat die spruit nie afgesny sal word nie en dat ’n omgewingsbestuursplan daargestel is. Stormwaterstelsels gaan gebruik word om oppervlakafloop te beheer. Vleiland en vloedlyn-verslae is opgestel en 30 meter buffers aan die vleilande sal in werking gestel word.

Leap het in Oktober ’n konsep basiese assesseringsverslag by die Gautengse departement vir landbou en landelike ontwikkeling ingedien. Volgens die verslag sal die interne stormwaterstelsel ontwerp word sodat die stormwater direk in die Rademeyerspruit vloei.

Die Vriende se Jeannie du Plessis sê dat die stormwaterstelsel gedurende konstruksie en daarna goed gereguleer moet word omdat besoedeling van die spruit nie net Moreletakloof sal benadeel nie, maar ook die ander groen gebiede wat die spruit ondersteun, soos Serene Valley en die Faerie Glen-natuurreservaat.


Die perseel word met die geel driehoek aangedui en die straat wat voor dit verbyloop is Rubensteinrylaan

Inspeksies
Jeannie het gesê dat inspeksies deur die munisipaliteit en plaaslike regering gedoen moet word om seker te maak dat regulasies nagekom word. Sy sê dat die Vriende en kenners die verslag bestudeer en as hulle bevind dat die voorsorgmaatreëls wat in die verslag voorgestel word nie voldoende is nie, hulle dit in die openbare deelnameproses sal noem.

Jeannie het gesê dat die Vriende nie teen die ontwikkeling is nie. Die oop stuk grond was deur die jare ’n veiligheidsrisiko wat veldbrande aanbetref, as skuilplek vir misdadigers en die moontlikheid dat plakkers daar sou vestig.

Verkeer
Volgens die verslag sal toegang tot die woonbuurt via Rutgersstraat wees, ongeveer 290 meter vanaf Rubensteinrylaan. Daar word voorgestel dat ’n nuwe twee-baan pad van ongeveer 100 meter gebou word in die toegang-serwituut aan die noord-westelike grens van gedeelte 180. Dié pad sal strek van die kruising van Rutgers- en Verdistraat tot die ingang na die nuwe ontwikkeling.

Inwoners sê dat daar reeds verkeersprobleme op die hoek van Rutgersstraat en Rubensteinrylaan is en dat ’n verkeerslig opgerig moet word as daar ’n verdere toename in verkeer gaan wees.

 

© 2024 Die/The Bronberger