Buurtwagte hou massa-patrollie op snelweg Print E-mail
News - Aktueel
Thursday, 17 November 2022 14:11
Untitled Document

’n Massa-patrollie van AfriForum-buurtwaggroepe het die N4-Oos snelweg tussen Pretoria en Bronkhorstspruit die nag van 22 Oktober gepatrolleer.

In Die Bronberger se Oktober-uitgawe het ons berig dat misdaad op dié snelweg skerp toeneem. Op 1 Oktober was daar vier insidente binne een uur tussen die Simon Vermooten-, Donkerhoek- en Cullinan/Rayton-afritte van die snelweg.

In die vroeë oggendure van 1 Oktober het ’n motoris ’n noue ontkoming gehad toe aanvallers op sy motor in die omgewing van die Diamond Hill-tolhek losgebrand het. Die beseerde man het ongeveer 30 km tot by ’n vulstasie in Hatfield gery.


Een van die buurtwaggroepe kom op die snelweg byeen
Foto: Verskaf

In die vroeë oggendure van 27 September het ’n vrou se voertuig klippe getref wat naby die Diamond Hill-tolhek geplaas is. Sy is die veld ingesleep deur vier gewapende rowers, wat al haar besittings en alles in die voertuig gesteel het.

Die buurtwagte het besluit om in te gryp om ’n veiliger omgewing en paaie te verseker. Buurtwaglede het van Saterdagaand 22 Oktober ongeveer 8 nm tot in die middernagtelike ure die N4-snelweg gepatrolleer.

“Ons kan nie net toekyk hoe ons mense se lewens nag ná nag bedreig word nie,” het Sampie Steinberg, distrikskoördineerder vir die Groter Pretoria-Noord-tak gesê.

 

© 2024 Die/The Bronberger