Cullinan se Oaklaan is uiteindelik, ná 16 maande, weer geteer terwyl inwoners langs Rangeweg steeds in stof verstik en boonop deesdae ’n vloedgevaar in die oë staar.
Die oostelike deel van Oaklaan, waarmee daar skynbaar niks fout was nie, se teer is in Junie 2021 om ’n onverklaarbare rede “opgerol en afgeskil”. Rangeweg, ‘Nuwedorp’ se hoofstraat, en Olienhoutweg se teer het ’n ruk daarna ook bykans oornag ‘verdwyn’.
Rangeweg se teerproses is steeds nie voltooi nie
In Februarie het ons in ‘Protes oor raaisel van ‘gestroopte’ strate’ berig dat inwoners uit pure moedeloosheid op 5 Februarie ’n vreedsame protes in Oaklaan gereël het.
Olienhoutweg was toe reeds gedeeltelik herstel, maar Oaklaan en Rangeweg is vir langer as ’n jaar laat lê. Oaklaan se laaste laag teer is op 26 Oktober aangebring, maar werk aan Rangeweg staan stil.
Verduidelikings en verskonings vir die gebrek aan herstel is legio en “die munisipaliteit swyg soos die graf” het ’n inwoner langs Rangeweg teen die Bronnie se saktyd laat weet. Dié inwoner wil nie sy naam genoem hê nie, weens vrees vir viktimisasie.
Die laaste laag teer is op 26 Oktober in Oaklaan aangebring
Foto’s: Eus de Clerk
Hy het kopieë van e-posse en ellelange lyste van kontak met verskillende verteenwoordigers van die munisipaliteit aan Die Bronberger gestuur. Daarin word onder andere genoem dat sekere inwoners se mediese toestande versleg weens die stof en dat inwoners se motors beskadig word.
Die straatbraai langs die nuut-geteerde Oaklaan
Die anonieme inwoner het ’n private siviele ingenieur gekry om ’n verslag oor Rangeweg te skryf. Hy het bevind dat die ontwerp verkeerd gedoen is. Die padoppervlak is reeds bo die bokant van die ingange na erwe. Wanneer die pad geteer word, gaan dit 350 mm bokant die ingange wees, wat skade aan motors se veringstelsels sal veroorsaak.
Daar is gedans by die straatbraai wat op 14 Oktober gehou is om die teer van Oaklaan te vier
Die ingenieur noem ook in sy verslag dat geen voorsiening gemaak is om te verhoed dat stormwater erwe binnestroom nie. Die anonieme inwoner sê dat modderwater reeds met die swaar reën van 8 November by sy oprit afgespoel het en in sy motorhuis beland het. |