Vermeende rower doodgeskiet Print E-mail
News - Aktueel
Thursday, 17 November 2022 14:09
Untitled Document

’n Vermeende rower is op 28 Oktober in Simon Vermooten-rylaan doodgeskiet en twee van sy trawante is aangekeer.

Die Brinant Groep het berig dat een van hulle reaksiespanne in Equestria op patrollie was toe lede van die publiek hulle voorgekeer het om te laat weet dat gewapendes ’n minderjarige seun in Farmweg beroof het en hom in hulle blou VW Golf probeer dwing het.

’n Lid van die publiek het die verdagte voertuig en verdagtes aan die reaksie-offisier uitgewys. Hy het die voertuig agterna gesit en ondersteuning ingeroep. ’n Gewapende verdagte het uit die voertuig gespring en probeer om ’n motor te kaap. Die reaksie-offisier is per voet agterna.


Die toneel in Simon Vermooten-rylaan
Foto: Skermgreep van Brinant Groep beeldmateriaal

Die verdagte het sy vuurwapen uitgehaal en op die reaksie-offisier en lede van die publiek gerig, waarna die offisier hom in die nek geskiet het.

Brinant se ondersteuningspan en die SAPD het opgedaag, die voertuig tot stilstand gedwing en die ander twee verdagtes, Mpho Mothopo en Promise Kgothume, in hegtenis geneem. Hulle het in die Pretoriase landdroshof verskyn.

Polisie het beslag gelê op die vuurwapen en voertuig wat vir die straat-roof gebruik is.

Woordvoerder vir Emer-G-Med, Kyle van Reenen, het bevestig dat paramedici ’n 32-jarige man op die toneel in Simon Vermooten-rylaan dood verklaar het.

 

© 2024 Die/The Bronberger