Sy saad kan nege maande vat om te ontkiem Print E-mail
News - Ons Omgewing
Thursday, 15 October 2009 23:59
Untitled Document

Enige tuin kan doen met dié boom se mooi pienk blomme of trosse rooi bessies as fokuspunt. Hy is die ideale boom vir ’n kleiner tuin omdat sy wortels nie aggressief is nie, hy rypbestand is en vrugtevretende voëls lok. Die probleem is net dat dié voëls, of eerder hulle mis, broodnodig is as jy die boom wil kweek.


Die trosse klein ronde vruggies word rooi in die herfs
Foto?s: Plantzafrica

Die berghardepeer se sade moet eers deur ’n voël se spysverteringstelsel gaan, waar dit blootgestel word aan die voël se maagsappe wat die chemiese stuitstof afbreek, voor die saad maklik kan ontkiem.

Dit is selfs moeilik om die boom van stiggies te kweek. Verskeie tegnieke is al probeer, maar lug-lae gee die beste resultate as jy sade wil ontkiem. Saai die saad in ’n 1:1 mengsel van riviersand en kompos en hoop maar op die beste. Jy moet die sand klam hou en een of twee van die sade mag dalk ná nege maande ontkiem. Dit is miskien makliker om voëlmis onder ’n volwasse boom op te tel.


Die berghardepeer het ?n ronde kroon

Die berghardepeer is ’n immergroen boom wat tot 20 meter hoog kan word. Hy hou van ’n rotsagtige habitat en kom op koppies in berg grasland voor. Die boom kan ’n enkele of veelvuldige stamme hê en sy blare vorm ’n ronde kroon. Sy bas is ’n gladderige grys of romerige wit, wat soms afdop om oranje skakering deur te laat. Blykbaar proe sy bas soos kiniensuur.

Dié boom se blomme word in klein pienk trosse gedra van lente tot somer. Nadat hy geblom het, vorm die boom trosse klein ronde vruggies wat in die herfs rooi word en tot in die winter aan die boom bly.


Klein pienk trosse blomme word gedra van lente tot somer

Die berghardepeer, Olinia emarginata, behoort aan die Oliniaceae familie wat bestaan uit omtrent tien spesies bome en struike wat inheems aan suidelike en oos-Afrika is. Die familie is vernoem na ’n Sweedse botanikus, Johan Hendrik Olin wat van 1769 tot 1824 gelewe het. Olinia is die enigste genus in die familie en in die verlede was daar groot verwarring met die identifikasie van dié spesies omdat hul blare so baie dieselfde lyk. Die naam ‘emarginata’ kom van die Latynse woord ‘emarginatus’ wat verwys na die ingekerfde blaarpunte. Dié punte het gewoonlik ’n pienk of rooi kleur.

Die blare is ’n glansende donkergroen aan die bokant en ’n dowwe, ligter groen aan die onderkant. As dié haarlose blare gekneus word, ruik hulle na amandels, wat die vrystelling van sianied aandui.


Die boom kan ?n enkele of veelvuldige stamme h

Geen wonder dat die berghardepeer bykans die enigste boom is wat nie tradisioneel gebruik word om medisyne mee te maak nie. Dit lyk nie asof enige wildspesies sy blare vreet nie, tog is voëls gaande oor sy vrugte. Soos sy naam aandui is sy hout baie hard en is vroeër gebruik om waens mee te maak.

Die berghardepeer word bedreig deur veldbrande. In die hoëveld word hy ernstig bedreig deur die indringer Acacia mearnsii en die toenemende uitbreiding van stede.

 

© 2020 Die/The Bronberger