Reuse bende boewe plunder ongestoord voort Print E-mail
News - Aktueel
Thursday, 20 October 2022 11:45
Untitled Document

’n Bende van 100 of meer plunderaars ruk hand uit in Pienaarspoort en Donkerhoek, sonder dat ’n vinger verroer word om hulle te keer. Die Pohl-gesin moes vroeg in September van plot 38, Donkerhoek vlug, wat daarna in puin gelê is. Die swierige Donkerhoek-herehuis uit die 1800’s is intussen ook afgebreek en weggedra.


Die Pohl-gesin se huis teen einde Augustus
Foto: Carl Pohl

“Toe ’n bende van seker 100 plunderaars besig was om die Donkie-villa langsaan ons af te breek, is daar op ons geskree dat ons volgende sou wees,” sê Carl Pohl. “Ek wil amper waarsku dat dit nie by ons hoewes gaan stop nie, tot daar iets daadwerkliks gedoen word aan die groep plunderaars.”


Toe die stroopproses begin is, het die mure van Donkie se villa darem nog gestaan
Foto: K Truter

In Julie het Die Bronberger berig dat die eienaars van die geskiedkundige Donkerhoek-villa die gebied moes verlaat. Ian MacDougall het aangekondig dat die familie ná vyf geslagte uit dié opstal moet trek omdat hulle ‘omring’ word deur Pienaarspoort se onbelemmerde, groeiende plakkerskampe.


Die Pohl-gesin se huis word vroeg in September afgebreek
Foto: Carl Pohl

Die Donkerhoek-villa is deur ’n destydse lid van Paul Kruger se volksraad, Jacobus Marthinus Andries (Donkie) Wolmarans, gebou. Donkie het sy gedeelte van die plaas Donkerhoek op 15 Junie 1896 gekoop en Wolmarans Rust gedoop. Ingevoerde hout vanaf Duitsland, wat met kalk behandel is om brandbestand te wees, is in die bouwerk van die Wolmaranshuis gebruik. Die houtsneewerk, vensters, balke, vloere, deure en kaggels is uit Europa verskeep en met ossewaens na Pretoria gebring.


Dit wat agterbly van ’n gebou op die Pohl-gesin se hoewe
Foto: Carl Pohl

Die Bronberger berig al meer as ’n dekade lank hoe Pienaarspoort in puin gelê word. Die gebied loop deur onder verwoestende bendes wat mense nie net rot en kaal besteel nie, maar ook hulle huise afbreek en alles wat bruikbaar is wegdra. Huiseienaars is met die dood gedreig as hulle dit durf om voet op hulle eie eiendom te sit.

In September het ons berig dat die misdaad-geteisterde Pienaarspoort-hoewegebied aan Mamelodi vloedramp-slagoffers in Tshwane streke vyf en ses, wat as dorpsgebied hersoneer word, gegee word. Lid van Tshwane se burgemeesterskomitee vir menslike nedersettings, Abel Tau, het op
15 Augustus dié slagoffers se hervestiging op Pienaarspoort aangekondig.


Só is Donkie se Donkerhoek-villa afgebreek
Foto: K Truter

Pienaarspoorters het vir bykans 10 jaar probeer om hulle plotte as ’n blok te verkoop, maar niemand wou daar koop as hulle eers gesien het hoe naby die plakkerskampe is nie. Vroeg in 2019 is planne gemaak vir ’n reuse nuwe residensiële ontwikkeling, wat as Pienaarspoort Uitbreiding 22 bekend sou staan en wat deur Tshwane befonds sou word.


Die begin van die afbreek-proses by Donkie se Donkerhoek-villa
Foto: K Truter

Die projek is uiteindelik deur die Gautengse departement van behuising oorgeneem en in Augustus het Abel Tau bevestig dat die koopproses van 472 hektaar op Pienaarspoort deur dié departement gefinaliseer is. Hy het gesê daar word verwag dat die grond in 15 700 erwe opgedeel gaan word en dat basiese water en sanitasiedienste voorsien sal word.

“Almal weet seker nou al teen dié tyd dat die gronde verkoop word en dat die transaksie nou blykbaar einde se kant toe staan,” sê Carl Pohl. “Die plan was dat ons sou bly tot die koop afgehandel is, maar ons moes vlug weens dit wat by ons en rondom ons besig was om te gebeur.”


Só het die villa se voorkant eens gelyk

“Ons het vermoed dat dit nie lank sou wees voor hulle ons huis afbreek sodra ons uit is nie. Ons buurman, Heinrich Schulte, het ook deurgeloop met hulle boorgat in die tyd wat ons huis verwoes en vernietig is.”

“Ek het met van die mense wat die ou Donkie-villa verwoes het gepraat en daar is gesê dat hulle van die goed na ’n skrootwerf toe aanry teen betaling,” sê Carl.


Die imposante ou Donkerhoek-villa

Hy sê dat hulle ’n saak by die Boschkop-polisiestasie geopen het oor hulle hoewe en van die goedere wat hulle nie kon red nie. Ten minste twee groot sleepwaens en bakkies het agtergebly en is saam met die plunderaars weg.

Carl sê hy het verneem dat die wagte, wat die gebied patrolleer, glo ook aangeval is en dat hulle wapens afgeneem is.

 

© 2024 Die/The Bronberger