Misdaad neem toe op snelweg Print E-mail
News - Aktueel
Thursday, 20 October 2022 11:32
Untitled Document

Misdaad op die N4-oos snelweg het skerp toegeneem in ’n tyd toe baie matriekafskeidsfunksies en die partytjies daarná gehou is.

“Almal ry laat rond,” het Trix van den Berg van die Mooiplaats, Zwavelpoort, Tierpoort (MZT) gemeenskapsveiligheidsgroep gesê. Sy het gesê dat daar op 1 Oktober vier insidente binne een uur tussen die Simon Vermooten-, Donkerhoek- en Cullinan/Rayton-afritte van die snelweg was.

“Wees veilig, ry stadig, hou die pad dop en moenie stilhou nie. Bel dadelik iemand,” het Trix gesê.

In die vroeë oggendure van Saterdag 1 Oktober het ’n motoris ’n noue ontkoming gehad toe aanvallers op sy motor in die omgewing van die Diamond Hill-tolhek losgebrand het. Die beseerde man het ongeveer 30 km tot by ’n vulstasie in Hatfield gery.

Woordvoerder vir Emer-G-Med, Kyle van Reenen, het gesê dat hulle ongeveer 1:45 vm na die vulstasie ontbied is. Die man se motor was vol koeëlgate en hy het ’n skietwond aan sy been gehad. Die man is op die toneel behandel en gestabiliseer en is na ’n hospitaal geneem.

Die Cullinan Gemeenskappolisiëringsforum (GPF) het op 27 September ’n waarskuwing uitgestuur dat klippe daardie oggend rondom 2.30 vm naby die Diamond Hill-tolhek geplaas is. ’n Vrou se voertuig het die klippe getref en sy is die veld ingesleep deur vier gewapende rowers, wat al haar besittings en alles in die voertuig gesteel het.

Die slagoffer is op die toneel deur die Bronkhorstspruitse AfriForum-buurtwag bygestaan. Karin Yssel van die Cullinanse GPF het gesê dat bestuurders op hulle hoede moet wees as hulle snags bestuur en moet uitkyk vir voorwerpe wat in die pad geplaas word. “Verwag altyd die onverwagse,” het sy gesê.

 

© 2024 Die/The Bronberger