Skatte en skandes Print E-mail
News - Kommentaar
Thursday, 20 October 2022 11:27
Untitled Document

Skatte en skandes: Dít is wat opval met die deeglike deurlees van hierdie, die tweede uitgawe van die Bronnie se 20ste bestaansjaar.

’n Skat wat ons baie na aan die hart lê en in opregte dankbaarheid laat, is die reaksie van só baie van ons lesers op verlede maand se uitgawe en oor die feit dat Die Bronberger nou reeds 20 jaar saam met sy gemeenskap stap.

Die saamstap, meelewing en die volgehoue bemoedigende en aanmoedigende terugvoer, soos wat in net ’n paar voorbeelde in die briewekolom hiernaas gelees kan word, is vir ons ’n skat wel, van onskatbare waarde.

Die natuurskat van ons omgewing is in prag en diversiteit onbeskryflik kosbaar. Die skat wat ons hier in die soeklig wil sit is egter die mense wat onbaatsugtige en dikwels ongewaardeerde werk doen om dié natuurlike nalatenskap teen vernietiging en selfs uitwissing te bewaar.

Dit is ’n onbetwisbare feit dat die onskuldige en kosbare ietermagog ’n groter gevaar op uitwissing as die renoster en ander bedreigde spesies in die oog staar. Ons gebied is ook geseënd met die teenwoordigheid van ’n aantal van hierdie skatlike miervreters.

Ons is ook gelukkige genoeg om mense soos prof Ray Jansen, plaaslike grondeienaar en voorsitter van die nie-winsgewende organisasie, Afrika Ietermagog Werkgroep, en dr Karin Lourens van die Johannesburgse Veeartseny Hospitaal vir Wild in ons skatkis te hê. Sy, wat gestroopte diertjies wat gered word, met onbaatsugtige ywer weer gesond genoeg probeer kry om hulle regmatige plek in ons omgewing te kan inneem.

Ons sou graag nog skatte wou uitlig (en daar is gelukkig nog etlike), maar een skreiende skande vereis egter vermelding: Eintlik smeek dié skande om uitgeskree te word sodat die ganse gebied, land en wêreld daarvan moet weet en desnoods die nodige ‘menslike’ reaksie en optrede sal uitlok:

Stel jou voor: ’n Bende boewe van oor die 100 sterk begin geleidelik in ’n eens vreedsame gebied om wetsgehoorsame burgers te terroriseer. Hulle word met die dood gedreig as hulle teenstand bied terwyl die bende hulle huise en eiendom plunder en naderhand tot op die grond afbreek.

Oor meer as ’n dekade heen word dié bende boewe onverhinderd toegelaat om met hulle strooptogte voort te gaan. Dit neem oor die jare toe in voorkoms en felheid. Geen owerheid of wetstoepasser doen stappe om ’n keer daaraan te sit nie. Die ‘media’ word blykbaar met ratte voor die oë tot stilswye hieroor oortuig.

Die bende raak uiteraard al hoe meer kordaat en uitgesproke. Hulle beweeg buite hulle oorspronklike teikengebied. Hulle het die monopolie. Hulle groei. Dit gaan só ver dat ’n geskiedkundige skat, ’n herehuis in die 1800’s opgerig deur ’n lid van Paul Kruger se volksraad, geteiken word. Die afgetakelde stukke van dié erfenisskat word as skroot verkoop. Die ou herehuis is naby aan die Sammy Marks-museum. Is hy volgende?  

’n Skande: Een wat dalk oortref word deur die skandelike stilswye van die sogenaamde ‘hoofstroom-media’ oor dié vergrype.

 

© 2024 Die/The Bronberger