Weghol-vragmotor bars kerkgeboue binne Print E-mail
News - Aktueel
Thursday, 22 September 2022 09:37
Untitled Document

Die Premiermyn Hervormde Kerk op Cullinan wag nou nog om met herstelwerk te begin ná ’n swaar vragmotor, wat tonne steierwerk en ’n hyskraan vervoer het, die kerk op 15 Augustus binnegejaag het.

Die skade draai by R1 miljoen en die kerk wag vir die versekering om die groen lig te gee sodat herstelwerk kan begin. Intussen moet ’n sekuriteitswag elke aand gehuur word om die perseel op te pas.


Die vragmotor met sy vrag steierwerk
Foto: Verskaf

Johann ‘Vyf’ van de Linde, hoof van reaksie vir die Rayton / Cullinan-gemeenskappolisiëringsforum (GPF), het vertel dat hulle op 15 Augustus omstreeks 1:25 nm ’n oproep ontvang het dat ’n vragmotor deur die kerk se mure gebars het.

Hy het gesê dat die vragmotor oor die stopstraat by die landdroshof deur die betonheining gebars het en in die ingangsportaal en kombuis van die kerk tot stilstand gekom het.

Yvette, vrou van die kerk se leraar, dr Johan Otto, het vertel dat sy iets gehoor het wat soos ’n aardbewing klink. Sy het dadelik kerk toe gehardloop toe sy die geweldige slag hoor en het gesien dat ’n vragmotor dwarsdeur die terrein se muur gery het, drie bome omgery het en deur die kerkkombuis geploeg het om in die voorportaal van die kerksaal tot stilstand te kom.


Ná die vrag verwyder is
Foto: Laurika van der Linde

Dr Johan was in ’n vergadering in Pretoria en ná sy hom gebel het, het Yvette ’n noodroep na Johann ‘Vyf’ gestuur. Met dié wat die vragmotor die betonmuur stukkend gery het, het ’n klomp mense die terrein binne gehardloop en Yvette sê dat sy aanvanklik nogal gesukkel het om hulle daar weg te kry om pad te maak vir die ambulans.

Yvette sê dat dit die brandweer ’n uur en ’n half geneem het om die vragmotorbestuurder uit die vragmotor te sny. Die bestuurder is per ambulans na die Montana-hospitaal geneem.

Niemand anders is beseer nie, alhoewel die bestuurder van ’n rooi BMW, net bekend as Success, geweldige skok opgedoen het ná die vragmotor hom rakelings gemis het.


Die vragmotor is uit die kerk gesleep
Foto: Laurika van der Linde

Yvette sê dat hulle koster en ’n hulp in die kombuis besig was toe die vragmotor die gebou tref. Die koster se rug was gedraai, maar die helper het die vragmotor sien kom en hulle het laat spaander. Yvette sê ’n mens kan op beeldmateriaal sien dat dit ’n noue ontkoming was. Genadiglik het die koster slegs ’n kniebesering opgedoen.

Sy sê dat die skade veel groter kon gewees het. Die vragmotor, waarvan die remme glo gefaal het, het begin draai toe hy die bome tref. As hy reguit aan beweeg het, was hy reguit in die kerk in, bo-oor al die kerkbanke.

“As dit nie was vir die soliede betonstrook in die kerk se dak nie, sou hy verder die gebou in beweeg het. Die hyskraan op die vragmotor het dié betonstrook getref, wat die vragmotor tot stilstand gedwing het,” sê Yvette.


Die skade te siene ná die vragmotor uitgesleep is
Foto: Laurika van der Linde

Die vragmotor het ’n groot hoeveelheid staal vervoer. Yvette sê daar was hordes verskillende lae steierwerk wat in rye gepak was en soliede lang stroke hout. Voor sy stilstand in die voorportaal het die vragmotor die grootste deel van die kombuis vernietig: ’n Dubbelwasbak en die kas waarin die kerk se kosbare goed gehou word, is onder andere daarmee heen.

Yvette sê die vragmotor het op ’n pad gery waar swaar voertuie nie mag ry nie, en die verkeerskameras wys dat hy nie by die stopstraat in Zonderwaterweg stilgehou het nie.

Die vragmotor het van die Maandagmiddag tot die Woensdagaand so half tien in die portaal gestaan voor hy uitgesleep is. Tydelike ondersteuning is onder die voorportaal se dak gesit. Wanneer dié ondersteuning weggeneem word, sal die dak inval en herbou moet word.


Die kerk van binne ná die vragmotor weg is 
Foto: Laurika van der Linde

Teen Die Bronberger se saktyd het Yvette berig dat daar nog geen veranderings is nie. Die tydelike ondersteuning is nog daar en hulle het intussen gehoor dat die hele dak se betonblokke met 1cm noord en oos geskuif het. Die openings in die kombuismuur en die betonmuur om die perseel is steeds met hout toegemaak en die kombuis kan nie met fondsinsamelings gebruik word nie. Die voorportaal is steeds toegespyker, maar hulle kan voortgaan met eredienste, terwyl van ’n ander ingang gebruik gemaak word.

’n Goeie ding wat uit dié skade gekom het, sê Yvette, is dat soveel mens uit die gemeente gehelp het met die skoonmaak en opruimingwerk, waar opgeruim mag word. “Daar het soveel meer positiewe energie ingekom,” sê sy.

 

© 2024 Die/The Bronberger