Bek-en-klouseer breek uit in ons kontrei Print E-mail
News - Aktueel
Saturday, 20 August 2022 05:17
Untitled Document

’n Bek-en-klouseer-bewakingsgebied van 10 km is vroeg in Augustus in dele van ons kontrei afgekondig. Diere naby dié bewakingsgebied het positief getoets vir bek-en-klouseer en word in kwarantyn gehou.

Die kaart wat uitgereik is, wys dat eiendom, wat binne die eerste 3 km val vanaf die plaas wat in kwarantyn is, gesien word as ’n ‘besmette’ gebied. Dié eiendomme sal op ’n weeklikse basis besoek word en raak dele van die volgende gebiede: Boschkop 543 JR, Witfontein 521 JR, Puntlyf 520JR, Kleinzonderhout 519 JR, Roodekopjes 546 JR, Kameelzynkraal 547 JR, Witpoort 551 JR, Dorstfontein 553 JE, Oude Zwaanskraal 542 JR en Marloo 522 JR.

Amptenare van veeartsenydienste voer roetine besoeke aan plase uit en dra ’n brief saam met hulle wat deur die Gautengse veeartsenydienste se hoof direkteur, dr Dietana Nemudzivhadi, onderteken is.

Die roetine besoeke sluit die volgende in: Sensusopname van diere op die plaas; gesondheidsondersoeke; en die neem van monsters. Bloed sal getrek word as daar enige verdagte letsels is en bloedsmeermonsters sal geneem word.


Die kaart wat die bewakingsgebied aandui

Boere word gevra om veeartsenydienste te kontak om hulle diere te kom inspekteer voor hulle van die eiendom vervoer mag word om te laat slag.

Eiendomme in die 4 km tot 10 km bewakingsgebied sal elke twee weke besoek word. Dit sluit die volgende gebiede in: Marloo 522 JR, Witfontein 521 JR, Rietvlei 518 JR, Kleinzonderhout 519 JR, Kameelzynkraal 547 JR, Witpoort 551 JR, Witpoort 550JR, Dorstfontein 553 JR, Rooipoort 555JR en Oude Zwaanskraal 542 JR.

Daar is bewegingsbeheer in dié gebied en geen lewende dier met gesplete hoewe word toegelaat om uit die 10 km bewakingsgebied te beweeg vir enige ander doeleindes as direkte slagting nie. Eienaars word versoek om Theo Serebolo by 084-620-3032 te skakel om permitte te kry vir diere om na slagpale geneem te word.

Jy moet ’n veeartseny gesondheidsertifikaat vir die diere hê om aansoek te doen vir ’n permit. Dié sertifikate kan uitgereik word deur twee veeartse in die 10 km bewakingsgebied. Skakel 073-622-6747 of 073-626-4546.

 

© 2024 Die/The Bronberger