Ontbyt in die oopte van Die Werf Print E-mail
News - Vreethans
Friday, 16 October 2009 01:20
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie

Deur die jare heen het ons Die Werf in Olympusweg gereeld besoek en het dit een van ons gunsteling kuier- en eetplekke geword. Maar ons kuiertjies was meestal oor ’n middag- of aandete en daarom besluit ons op ’n mooi Saterdag in Oktober om Die Werf se brêkvis op die proef te loop stel.

Die weer is windstil en matig – ideaal om plaas te neem op die ruim dek van die geskiedkundige ou opstal. Ons bestel koffie by ’n vriendelike kelner met die naam van Etienne en verkyk ons aan die voëls wat op ons oogvlak hier neffens ons in die witstinkhoutbome baljaar. Dis lekker ontspanne en rustig op dié werf se stoep.


Deel van die heerlike dekstoep by dié werf

Gemeet teen die baie groot verskeidenheid tradisionele geregte waarmee die spyskaart spog, kan ’n mens dalk dink dat die ontbytspyskaart effe aan die agterspeen suip. Tog is die keuse divers en interessant. Vir voorgereg kan jy kies uit ’n vrugtebord, groot of klein, teen R24.50 of R16.50 onderskeidelik, of muesli, ook groot of klein, teen R1 meer as die vrugte.

Teen R26.50 kan jy die “Daaglikse Brood” bestel. Sou jy dit doen, sal jy mieliebrood, kolwyntjies en plaasbrood met druiwekorrelkonfyt, biltongpatee en kaas kry.

Die plaasontbyt is duidelik vir honger ouens uitgedink. Dit bestaan uit roereiers, skaapwors, gerookte varknek, sauté aartappels, gebraaide sampioene en tamatie. Jy kry, soos met die ander keuses, botterbroodjie en plaasbrood daarmee saam. Die plaasontbyt kos R42.95


Die ou opstal van Die Werf dateer uit die 19e eeu en is oral smaakvol ingerig

’n Ongewone item is die “früstick” wat bestaan uit Duitse wors-sosaties, bratkartoffelen en roereier. Die Werf roer terloops die eiers van al die geregte en opvallend is die totale afwesigheid van bakeiers en spek. Verder bied die ontbytspyskaart omelette met verskillende vulsels, soos biltong, sondroog tamaties, fetakaas en avo en peppadew, ’n jagtersontbyt en ’n mieliewafel-ontbyt. En dit is wat ons onderskeidelik op besluit, ek die jagtersontbyt en Metgesel die mieliewafels.

Die jagtersontbyt bestaan uit roereiers, skaapwors, gebraaide leweren- niertjies, tamatie en bogobe en sheba. Wat op aarde is bogobe? Ek het ook gewonder. Dit is ’n stywe pap met ’n heerlik tekstuur en smaak. Ek vermoed ’n mengsel van mieliemeel en sorghum word gebruik. Die Werf bedien dit as twee halwe balletjies met sampioen tussenin en ’n baie smaaklike sheba bo-oor.


?n Jagtersontbyt en mieliewafeloordadigheid

Die lewer-en-niertjies is nie heeltemal soos my oorle ma s’n nie, maar heel skaflik en die skaapwors smaak soos hy moet.

Die Werf se jagtersontbyt is genoeg om ’n groot ou agterna tevrede te laat terugsit. Dit kos R39.50. Metgesel se mieliewafels kom saam met roereiers, sampioene, tamatie en maalvleis. Omdat sy nie partydig is vir die eet van soogdiere nie, vra Metgesel ekstra sampioene in die maalvleis se plek en word beloon met ’n amperse oordadige porsie paddastoele.

Sy geniet die ontbyt en veral die mieliewafels. Agterna sê sy, sy hou baie meer van mense wat vir haar te veel kos gee as van die soort wat te min gee. Die mieliewafel- brêkvis kos R31.50

Jy kan Die Werf bel by 012-991-1809.

 

© 2024 Die/The Bronberger