Hartseer einde breek aan vir Donkie se Donkerhoek-villa Print E-mail
News - Toeka se dae
Saturday, 23 July 2022 07:04
Untitled Document

Angie Kleijn

Die einde van ’n era het vir die geskiedkundige Donkerhoek-villa uit die 1800’s aangebreek. Ian MacDougall het aangekondig dat die familie ná vyf geslagte uit dié opstal moet trek omdat hulle ‘omring’ word deur Pienaarspoort se onbelemmerde, groeinde plakkerskampe.


Jacobus Marthinus Andries (Donkie) Wolmarans
Foto: Tian Schutte versameling

Dié swierige ou huis is teen groot moeite en koste deur ’n destydse lid van Paul Kruger se volksraad, Jacobus Marthinus Andries (Donkie) Wolmarans, gebou. Donkie het sy gedeelte van die plaas Donkerhoek op 15 Junie 1896 gekoop en Wolmarans Rust gedoop. Ingevoerde hout vanaf Duitsland, wat met kalk behandel is om brandbestand te wees, is in die bouwerk van die Wolmaranshuis gebruik. Die houtsneewerk, vensters, balke, vloere, deure en kaggels is uit Europa verskeep en met ossewaens na Pretoria gebring.

Ian sê dat dié villa, wat sedert 1920 in sy familie se besit is, nou seker soos al die ander huise in aangrensende Pienaarspoort afgebreek en weggedra gaan word.


Donkie se vrou, Catharina Jacoba
Foto: Tian Schutte versameling

Plaas
Die eerste eiendomsreg van die plaas Donkerhoek, waarop die villa gebou is, is op 9 September 1859 aan PJ Botha toegeken. In 1871 is die plaas tussen sy twee seuns JP en MP Botha verdeel. MP Botha se helfte is in 1882 onderverdeel en is verkoop aan twee Wolmarans-broers, Frederik Gerhardus Andreas en Josephus Johannes Hermanus.

Toe Josephus oorlede is, het Jan Francois (Frans) Schutte van die buurplaas (vandag Rhenosterfontein) met sy weduwee, Martha Salomina Dorothea, gebore Schoeman, getrou. Een van Frans en Martha se dogters, Catharina Jacoba Schutte, het op 26 Junie 1869 met Donkie getrou.


Die graf van Catharina Jacoba, Donkie se vrou, op Donkerhoek
Foto: Cullinan Bewarea

Donkie, gebore op 2 Maart 1849, was die seun van Frederik Gerhardus Andries Wolmarans, ’n welgestelde Potchefstroomse boer en kerkleier, en Anna Helena Hendrina, ’n nooi Steyn.

In 1888 is die helfte van die Wolmarans-broers se deel aan BJ Liedenburg verkoop en ’n kwart deel aan AL Breedt. Donkie het AL Breedt se deel op 15 Junie 1896 uit sy boedel gekoop en ook
BJ Liedenburg se deel, ’n totaal van “645 morgen en 486 roeden”.


Ella Brink as jong vrou voor die villa
Foto: Brink-MacDouggal versameling

Donkie is op 18 Mei 1899 in die ouderdom van 50 jaar oorlede. Catharina is later weer getroud met Rudolph Jacobus Laubscher. Sy is egter langs Donkie in die plaaskerkhof so 200 m van die Donkerhoek-villa af, begrawe. Haar graf is steeds daar, maar Donkie is later deur die regering in die Helde-akker in Pretoria herbegrawe.

Donkie se Donkerhoek-villa is een van die min opstalle wat nie in die Anglo-Boereoorlog afgebrand is nie. Ná Donkie se dood is die huis deur die Engelse opgekommandeer om eers as offisiershuis en daarna as hospitaal te dien. Die Slag van Donkerhoek (Diamond Hill) was op 11 en 12 Junie 1900, nie ver suid van dié huis nie. Agter die huis kan ’n mens die oorblyfsels van ’n ou kanonpad teen die berg op, nog duidelik sien en daar is verskeie klip fortifikasies op die rif.


’n Vroeëre familiefoto voor die ou opstal
Foto: Brink-MacDouggal versameling

Koos
Donkie se grond is aan sy seun, Jacobus Marthinus Andries (Koos) Wolmarans nagelaat. Hy is in 1875 gebore en het, net soos sy pa, ’n politieke loopbaan gevolg en het ’n lid van president Paul Kruger se uitvoerende raad geword.

In die Anglo-Boereoorlog het ’n berig, ‘Councillor Wolmarans arrested’, op 19 Julie 1900 in ‘The New York Times’ verskyn. Dit lui dat dié lid van die Transvaalse uitvoerende raad by sy huis binne die Britse lyne naby Hatherley in hegtenis geneem is. Stawe goud, glo £6 000 werd, en ’n verskeidenheid wapens wat in die huis versteek was, is gevind.


Ella Brink se ma, Ellie Maria Aletta Wouda, ’n nooi Potgieter
Foto: Brink-MacDouggal versameling

Ná die oorlog was Koos erg teen die nuwe regering gekant en hy was deel van die beplanningsvergadering van die 1914 Rebellie wat op die buurplaas Kleinfontein gehou is. Geskrifte verwys na hom as kaptein Wolmarans, ’n oud-offisier van die Staatsartillerie.

Koos is op 27 Oktober 1914 as kommandant gekies, met die opdrag om manskappe noord van die spoorlyn, in Rayton en Cullinan se gebied, bymekaar te maak. Hy het daarin geslaag om 80 manne saam te roep. Premiermyn was glo ’n “nes van Engelse” en die burgers wou hulle leiers oortuig om die plek te vat en die treinspoor by Pienaarsrivier onbruikbaar te maak.


Die Woudas by die ou Wouda-losieshuis. Die bord bokant die voordeur lui:
“Eigenares Mev E Wouda”
Foto: Brink-MacDouggal versameling

Koos en sy mede-rebelle is egter deur ’n “wegloper” veraai wat vir die vyand vertel het waar hulle was. Vroegoggend van 7 November 1914 is hulle by Albert-silwermyn omsingel en is by hulle lêplek uitmekaar geskiet. Koos het daar gesneuwel. Hy is langs sy ma op Donkerhoek begrawe. In 1973 is sy oorskot in die Heldeakker op Bethal herbegrawe.

Eers in 1919, bykans vyf jaar ná Koos se dood, is die helfte van sy grond aan J Levin verkoop en die ander helfte aan JLP de Beer. Dié Levin het die winkel op Pienaarspoort besit.


Ella Brink voor die destydse Avondzon Hotel
Foto: Brink-MacDouggal versameling

Wouda
Johannes Bernardus (Barry) Wouda het J Levin se deel in 1920 gekoop. Hy het eers een van die laer dele van die Donkerhoek-plaas besit en Wolmarans Rust gekoop ná hy dié deel verkoop het.

Barry is op 29 Februarie 1879 in die Karoo gebore en was ’n Kaapse rebel in die Anglo-Boereoorlog. Hy is op 11 Julie 1904 in Pretoria getroud met Ellie Maria Aletta Potgieter, gebore 1881.


Die trappe wat na die opstal se voordeur lei

Hulle het aanvanklik in ’n reuse ou huis in Schoemanstraat gewoon, waar die Residensie Hotel later gebou is. Ellie het dit in die bekende Wouda-losieshuis omskep. Die bord bokant die voordeur het trots aangekondig: “Eigenares Mev E Wouda”.

Dit is hier waar hulle dogter, Ella Maria Aletta, gebore op 20 Oktober 1915, en haar drie broers grootgeword het voor die trek na Wolmarans Rust. Sy is in 1941 met Wilferd Ernest James MacDougall getroud en hulle het net een seun, Ian, gehad. Ian is op 22 Oktober 1944 gebore en het op sy oupa Barry Wouda se plaas grootgeword. Ella en Wilferd is in 1948 geskei.


Loodglaswerk

In 1949 het Ella met David Hermanus Brink, gebore op 18 Maart 1892, getrou. Sy was David se derde vrou en hulle het twee kinders gehad: Ella Aletta Wouda Brink, gebore in 1950, en David Hermanus Brink, gebore in 1952.


’n Kristalkandelaar in die breë ou gang

Avondzon
Barry Wouda is op Kersdag 1955 oorlede en het die grond aan sy dogter Ella nagelaat. In daardie jare het Ella die klein “Avondzon Trading Shop” en poskantoor gehad waar die Pienaarspoort-grondpad afdraai uit die Ou Bronkhorstspruitpad.

Haar man, David, het ’n groot melkplaas met 350 Frieskoeie agter die berg op Rietfontein gehad. Hy het ook ’n plaas op Rooikoppies naby Rayton gehad en Brink en Hertzog motoringenieurs in die middestad.


Die vuurherd is uit Europa ingevoer

In die 1960’s het hulle Avondzon Hotel op die plaas gebou met die hulp van Ella se ouer argitek-broer, Carl Wouda. In 1968 het hulle uit Wolmarans Rust getrek hotel toe om die hotel self te bestuur.

In die 1970’s, ná wetgewing uitgereik is dat plase ná ’n sekere datum nie meer onderverdeel mag word nie, het Ella ’n gewigte besluit geneem. As ’n voorsorgmaatreël, wat haar in die toekoms sal toelaat om dele van die plaas te verkoop, sou dit nodig wees, het sy die plaas laat onderverdeel.


Die houtsneewerk op die stoep

Finansiële probleme het toe wel oor die gesin se pad gekom en Ella moes ongelukkig alles behalwe vier dele van die plaas, wat sy van haar pa geërf het, verkoop. Die deel wat oor was is as ’n beslote korporasie geregistreer en Ella het geglo dat om ’n trust te skep, die beste pad vorentoe was. So is die Avondson Trust bk gebore, wat nog al die jare deur die familie bestuur word.

David is op 4 November 1979 in die Avondzon Hotel oorlede. Ella het in die hotel aangebly en het eers op haar oudag terug getrek na Wolmarans Rust, waar sy saam met haar seun David in die huis gewoon het. Sy is op 4 Junie 2004 oorlede.


Die stoep

David het tot in 2005 in die huis aangebly tot sy halfbroer, Ian, se seun, Ian Dougall MacDougall, gebore op 29 Januarie 1975, saam met sy vrou en kinders daar ingetrek het.

“Natuurlik wil ons nie verkoop nie,” het Ian gesê. “Weens omstandighede moet ons trek. Ons het nie ’n keuse nie.”

Al Ella se planne om die plaas in die familie se hande te hou, kom nou tot ’n einde weens iets wat sy nie kon voorsien nie – die stygende misdaad in die gebied.

 
 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger