Maatskappy wil op sensitiewe rif prospekteer Print E-mail
News - Aktueel
Saturday, 23 July 2022 07:03
Untitled Document

’n Private maatskappy, Ibex Investments, doen aansoek vir prospekteerregte op eiendom wat aan die mynreus, Petra Diamonds, behoort.

Ibex Investments wil vir diamante prospekteer in die kritiese biodiversiteitsgebiede op die rif van die Cullinan-koppies aangrensend aan Koppiesrylaan. Die aansoek vir prospekteerregte is op die oorblywende gedeeltes van die plaas Lousbaken 476 JR, wat baie naby is aan die slikdam van Cullinan-diamantmyn.

Koketso Adams van die Cullinan-diamantmyn sê dat die myn slegs daarvan te hore gekom het omdat nuwe wetgewing aansoekers om prospekteerregte verplig om die grondeienaar van so ’n aansoek in kennis te stel. In dié geval val die rif en dam binne die Cullinan-diamantmyn se myngebied.

Koketso sê dat ’n vergadering om die gemeenskap hieroor in te lig op 1 Julie in die Refilwe-gemeenskapsentrum gehou is. Daar is aan Koketso gesê dat pamflette oor dié vergadering by die Cullinan-biblioteek opgesit is.


Die rooi dele op die kaart is kritiese biodiversiteitsgebiede en die groen dele
ekologiese ondersteuningsgebiede

Die Bronnie kan sonder vrees vir teenspraak berig dat die nuwe bibloteek weinig of geen besoekers per dag ontvang sedert sy amptelike opening nie.

Die omgewingspraktisyn wat die proses behartig is Galago Environmental.

Petro Lemmer, ’n plaaslike omgewingskundige, sê dat die rif waar Ibex Investments wil prospekteer binne ’n kritiese biodiversiteitsgebied geleë is, aangrensend aan ’n ekologiese ondersteuningsgebied en dat ten minste vyf bedreigde plantspesies op die rif voorkom.

Volgens wetgewing behoort alle minerale regte aan die staat. Petro sê dit is hoe ’n private maatskappy kan aansoek doen vir prospekteerregte op eiendom “wat aan jou of my of aan ’n reus soos Petra Diamonds behoort”.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger