Die lief en leed van twee Switserse sendeling-vriende Print E-mail
News - Toeka se dae
Saturday, 23 July 2022 07:02
Untitled Document

Angie Kleijn

In 1902 het ’n Switserse sendeling in Pretoria aangekom waar hy sulke ongewone take aangepak het, dat hy die hele Switserse bediening beroemd gemaak het. Hy het gekies om na kranksinniges, melaatses en gevangenis wat wag om gehang te word, om te sien.

Ernest Creux het bediening gedoen by die Westfort Melaatse Hospitaal – vandag wes van Pretoria, langs Lotus Gardens en Danville – aan die voet van ’n militêre fort op Daspoortrand, wat destyds Witwatersberg genoem is.


Ernest Creux en Paul Berthoud in Pretoria
Foto’s: University of Southern California

Hy is bevorder tot direkteur van die Switserse Sending in Transvaal en het seker gemaak dat dié sending bande smee met ander kerke in die Suid-Afrikaanse Sendelingskonferensie van 1904 en by die Transvaalse Sendingvereniging in 1905.

In 1907 het die regering vir hom ’n kantoor by die Pretoriase Sentrale Gevangenis gegee en terselfdertyd het hy gewerk by dit wat in 1892 gebou is as die ‘Krankzinnigengesticht’, so 3 km wes van die Pretoria-stasie op 84 hektaar grond, wat as die ‘Ou Botaniese Tuin’ beskryf is. In 1912 het die ‘gesticht’ se naam verander na die Pretoria Sielsieke Hospitaal, wat ons vandag as Weskoppies ken.


Lina Creux neem ’n foto in Pretoria 

Vriend
Ernest se verhaal is nou vervleg met dié van sy boesemvriend en mede-sendeling, Paul Berthoud. Ernest is op 9 November 1845 in Lausanne in die Franssprekende kanton Vaud in die Lausanne-distrik van Switserland gebore as die seun van Antoinette Josephine en Jean-Marc Samuel Albert Etienne Creux.

Paul is ook in die Vaud-kanton gebore, in Vallorbes, op 14 Mei 1847 as die seun van Henriette Georgette Adele en Henri Francois Berthoud. Ernest en Paul was albei teologiese studente by die fakulteit van die Vrye Kerk in die Vaud-kanton in Lausanne. Albei het in 1869 hulle dienste as buitelandse sendelinge aan die sinode van dié kerk aangebied “of dit nou in die tropiese dele of op die noordelike ys is”.


Dié foto is op 31 Mei 1903 in Pretoria geneem. Die name wat bekend is, is van links na regs: Mnr Loze, Ernest en Matilda Creux, mej Van Larish, dr Liengme, mej M Perret, mnr Rosset, Marg, Berthoud, Lina Creux, Violette Creux (onder links in wit), Marie F Loze, mev Rosset en Lucy

Ernest was glo die impulsiewe een en poëties; ’n intuïtiewe predikant. Paul was die versigtige beplanner en organiseerder, die konseptualiseerder van die twee. Hulle eie denominasie het destyds nie ’n sendelingprogram aangebied nie, so die twee is na die Universiteit van Edinburgh gestuur om Engels te leer en om mediese kennis op te tel.

Intussen is albei getroud. Ernest is getroud met Matilda Ann Ansell, wat op 1 April 1849 in Ipswich, Suffolk in Engeland gebore is as die dogter van Jane en Henry Seymore Ansell. Uiteindelik het hulle nege kinders gehad: Etienne Ernest, Jeanne Antoinette, Jean-Paul Henri, Valdo Wiliam, dr Paul Alfred, Lina (Watson), Marguerite (Dawson) Lucy Adele (Phillips) en Violette Helene (Thomas).


Die sendinghuis op Valdezia

Paul is getroud met Eugenie, ’n nooi Exchaquet, ook van die Vaud-kanton in Switserland, wat op
25 Mei 1851 gebore is. Hulle het drie kinders gehad, Emile, Adele en Anna. Hy het later nog twee keer getrou – met Ruth Anna, ’n nooi Junod, en Emma Mathilda, ’n nooi Schlub.


Sendelingkinders op donkies by Valdezia

Afrika
In 1872 het Ernest en Paul saam met hulle gesinne na diep, donker Afrika vertrek. Hulle het in Februarie 1873 in Morija, Lesotho aangekom waar hulle by die Hermon-stasie onder die Parys Evangeliese Sending gewerk het.

Op 9 Julie 1875 het hulle met ’n trek van 39 mense, twee babas, en oor ’n honderd diere aangekom in dit wat toe as die Spelonken-gebied bekend gestaan het, en het ’n sendingstasie, genaamd Valdezia, vernoem na hulle tuiste in die Vaud-kanton, gestig. Dit is ongeveer 25 km suid-oos van die hedendaagse Louis Trichardt.


Die sendelinge hou piekniek in Pretoria. Ernest Creux is heel links. Sy vrou, Matilda, is in die middel met ’n hoed op, en Arnold Borel is heel regs

Dié was egter nie ’n vreedsame gebied nie en daar was wedywering tussen plaaslike stamme en die trekboere wat in die gebied aangekom het. Die Valdezia-gebied was die eerste Shangaan-nedersetting in Suid-Afrika. Die Shangaans het in die vroeë 1800’s daar aangekom. Hulle is van die Nguni-stam van Nongoma in noordelike KwaZulu Natal en hulle oorspronklike leier was koning Zwide van die Nxumalo-stam.

Hy is deur Shaka Zulu verslaan en sy stam het verbrokkel. Die leier Soshangane en sy volgers het die gebied verlaat om die koninkryk van Gazankulu ter ere van sy oupa, een van die Zwide-konings, koning Gaza, te stig.


’n Ouer Ernest Creux in Pretoria

Gazankulu is aangeval deur die Portugese setlaars in Lourenco Marques, wat gelei het na die stam se tweede migrasie Transvaal toe. Met die Shangaans se aankoms by Valdezia het die Portugese setlaar, Dos Santos Joao Albasini, by hulle aangesluit. Joao het vlot Tsonga/Shangaan gepraat en het later hulle stamhoof geword. Vandag nog vergader die Shangaans by Albasinidam om eer aan Joao te betoon.


Die sendinghuis op Rikatla: Mev Junod, Paul Berthoud en Henri Alexandre Junod staan op die stoep

Sending
Ernest en Paul het die plaas Klipfontein by Scot J Watt gekoop om ’n sendingstasie in dié gebied te bou. Hulle het ’n skool met sewe kinders begin en het dit Lemana gedoop, vernoem na Lac Léman, ’n meer in Switserland.

’n Jaar later, op 2 Augustus 1876, is Ernest en Paul in hegtenis geneem, glo oor hulle samewerking met die plaaslike stam. Hulle vroue is alleen agtergelaat en het die sendingstasie vir ’n hele paar maande eiehandig bedryf.


Die sendinghuis in Pretoria – glo in die suide van die destydse dorp

Die wit gemeenskap het egter vir Ernest en Paul in die bresse getree en dominee Stephanus Hofmeyr, wat toe ’n sendeling op Kranspoort was, was een van die mense wat ’n petisie aan die regering gestuur het om ’n einde aan die “schandelijke daad” te sit.

’n Groep van 22 mense het na Marabastad in die Noord-Transvaal, waar die twee aangehou is, getrek om aan te dring op hulle vrylating. President Thomas Francois Burgers het instruksie gegee dat die twee sendelinge vrygelaat moet word en met hulle werk mag aangaan.


Matilda Creux, links met die kamera, maak gereed om mense voor die sendinghuis in Pretoria af te neem

Intussen het Ernest en Paul begin om die plaaslike taal te leer en het die Bybel daarin vertaal. Hulle het die gebied tot by Pietersburg in die suide en die Mosambiekse kus in die ooste gedek, gewoonlik per voet omdat die perde almal perdesiekte gekry het. Pos moes met ’n donkie Pretoria toe gestuur word en later, toe ’n treinspoor gebou is, na Pietersburg, alhoewel geen formele poskantoor bestaan het nie.


’n Foto van Switserse sendelinge. Arnold Borel is heel links en Ernest Creux heel regs. Op gemakstoele in die middel sit Marion Lenoir, links, en Matilda Creux, regs. Nora Lenoir sit voor Marion

Epidemie
In 1879 het hulle ’n sendingstasie by Elim-hospitaal oopgemaak. In 1879 en 1880 het ’n malaria-epidemie uitgebreek en Paul se vrou, Eugenie, en al hulle kinders is oorlede. Eugenie is op 3 April 1879 in die ouderdom van 27 jaar oorlede. Drie van Ernest en Matilda se kinders is ook daar aan witseerkeel oorlede.

Ná Paul se hele gesin uitgewis is, is hy Switserland toe met verlof van 1880 tot 1884 en is daar met sy tweede vrou, Ruth Junod, getroud. Hy is terug na Valdezia, maar is in 1887 Mosambiek toe waar hy die sendingstasie, Rikatla, gestig het. Ander Mosambiekse stasies het gou gevolg, insluitende een by Lourenco Marques.


Switserse sendelinge: Die drie mans agter is, van links na regs, Ernest Creux, mnr Garin en mnr Dyke. Arnold Borel sit links voor en Matilda Creux sit in die middel

Paul was weer van 1894 tot 1896 in Switserland. Ruth is in 1901 aan ingewandskoors oorlede en Paul het in Mosambiek aangebly. Hy het in 1903 in Switserland gaan aftree, maar het in 1906 teruggekeer na Lourenco Marques en het die grootste dele van 1907 tot 1909 by die Rikatla- en Tembe-sendingstasies deurgebring. Paul is weer van 1913 tot 1914 Switserland toe. Hy is op
26 Februarie 1930 in die ouderdom van 82 jaar in Mosambiek oorlede en is oorleef deur sy derde vrou, Emma Mathilda Schlub.


Die sendingstasie in Pretoria

Ernest, wat in 1902 Pretoria toe is om na kranksinniges, melaatses en ter dood veroordeeldes om te sien, is op 17 Julie 1929 in die ouderdom van 83 jaar in Pretoria oorlede. Sy vrou Matilda is op
9 April 1932, ook in die ouderdom van 83 jaar, in Pretoria oorlede.

Valdezia-sendingstasie is in 1999 as ’n nasionale monument verklaar.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2021 Die/The Bronberger