Baie van ons onthou met dankbaarheid daardie sorgvrye kinderjare van
kommerlose kuier in die ooptes van die natuur saam met ons maats. In
plattelandse gebiede soos die Bronberg kon die kinders van ons generasie
die wonderlike avontuur van uitkamp langs ’n dam of ’n rivier, sonder
enige bedreiging of vrees, ervaar. Wonderlike lewenservaring wat
ons deur ons lewensloop kan koester. Iets wat ons graag ook ons
kinders gun. Maar dinge het sedertdien drasties verander.
Die wrede werklikheid van die wettelose boeweparadys wat ons gebied
en ons land geword het, is weer onlangs in Zwavelpoort bevestig. Vyf
tienerseuns is in hulle uitkamptentjie langs ’n dam voor die geweerloop
aangehou, geterroriseer en beroof. Weerlose veertienjarige kinders
word die slagoffers van die uitvaagsels in ons midde wat voortdurend op
die loer lê vir maklike teikens.
Ironies is dit dat die selfone wat ons kinders dikwels om veiligheidsredes
by hulle dra, hulle juis aanloklike teikens maak van die beroepsboewe
wat toenemend in ons omgewing bedrywig is.
In dieselfde tydperk van die laakbare aanval op die seuns is minstens nog
twee plaasaanvalle in die Bronberg-gebied uitgevoer. Onskuldige mense
is in die proses koelbloedig vermoor. Dit raak net al hoe erger. Durf ’n
mens bespiegel of die aantal belaglike nuwe grondeise wat mense oor ’n
uitgebreide deel van ons gebied nou in die gesig staar, bes moontlik iets
met hierdie aanvalle te doen het?
Niemand kan inwoners van die Bronberg se hoewegebied kwalik neem
as ’n gevoel van magtelose woede hulle begin oorheers nie. Wat staan
ons te doen? Is daar dan geen einde in sig nie? Die enigste antwoord lê
in saamstaan en terug baklei. Ons durf nie die gyselaars van moedeloosheid
en vrees word nie.
Kanale is reeds geskep vir die gemeenskap om doelgerig en georganiseerd
te mobiliseer teen die boewery wat ons bedreig. Die suksesse wat
reeds deur organisasies soos Conserv behaal is, moet vir ons as aansporing
dien om ook ons deel te doen. Ons moet almal betrokke raak en as
’n eenheid terug baklei vir ons veiligheid en die veiligheid van ons kinders.
Daar is nie ’n ander uitweg nie. |