Weiveld se aankondiging op 25 Mei dat hulle deure permanent sluit het derduisende aanhangers die josie in vir “die omie” wat ’n klagte oor geraas gelê het. Veral Afrikaanse musikante het by dié vermaaklikheidsplek op die hoek van die Boschkoppad en Grahamweg (Lynnwoodwegverlenging) op Zwavelpoort opgetree.
Dave Hayman van Sherwood-stalle langs Weiveld sê dat hy die sogenaamde “omie” is wat nou deur duisende kinders gehaat word, maar dat hy nie die enigste een is wat klagtes oor die lawaai gelê het nie.
“Ek weet ek gaan ’n “hammering” vat,” sê Dave “en dit het klaar begin met doodsdreigemente, dreigemente om my plek af te brand en die perde te vergiftig.” Die musikant, Appel, se plasing op sy Facebook-blad die dag van die sluiting, het binne ure honderde kommentare oor “die omie” uitgelok.
Binne-in Weiveld
Foto: Facebook - Weiveld
Appel het gesê: “Dis vir my ’n ongelooflike hartseer dag vandag; die nuus is al gister met my gedeel dat ons geliefkoosde dans en kuierplek, Weiveld, sy deure moet sluit as gevolg van ’n buurman en sy trawante wat oor die geraas kla.”
Appel het geskryf dat daar baie mense is wat nou hulle werk kwyt is en “ons as musikante het een groot verhoog minder” asof die grendeltyd nie erg genoeg was nie. Hy sluit af deur te sê, “Ek hoop terdeë die ou oom is nou tevrede met sy vrede”.
Weiveld se buitekant in die aand
Foto: Facebook - Weiveld
Sluiting
Chantelle Bothma, Bronberg Hub se bemarkings- en sake-ontwikkelingsbestuurder, het bevestig dat die sluiting “inderdaad waar” is. Op Die Bronberger se navraag oor meer inligting, het Chantelle gesê:
“Die enigste verklaring wat ons nou kan bied is dat dit ons spyt om u mee te deel dat alle toekomstige vertonings gekanselleer moet word as gevolg van ’n geraas-klagte wat deur ons buurman aanhangig gemaak is. Ons het dus geen keuse as om Weiveld permanent te sluit nie.”
Chantelle het gesê dat die ander restaurante op die perseel nog oop is en dat FlavorVille op
16 Junie herbekendgestel word. ’n Deli gaan ook bekendgestel word.
Woedende aanhangers skryf op Facebook dat “die omie” wat hulle gunsteling kuierplek laat sluit het, nie langs die plek moes intrek nie. Dave Hayman woon egter al 42 jaar lank op sy kleinhoewe. Hulle vra of dit nie dalk tyd is dat hy ouetehuis toe moet trek nie.
Weiveld se verhoog
Foto: Facebook - Weiveld
Perde
Dave verduidelik dat die perde in sy stalle aan slaapgebrek ly. Ander nabye bure, wat al 20 en 30 jaar lank op hulle kleinhoewes woon, vertel dieselfde en sê dat die uitwerking gesien kan word op hulle perde, wat in die nagte onder kamera staan. Dave het ’n plaaslike veearts om hulp genader en sy het voorgestel dat hy ’n klagte van dieremishandeling by die DBV lê.
Dit is egter nie net die perde wat swaarkry nie. Dave sit met pakke briewe van 62 mense in die omgewing wie se lewens nadelig beïnvloed is deur die geraas. Hy sê dat die geraas die ekwivalent is van ’n alarm wat vir ses ure aanmekaar in jou slaapkamer afgaan.
Dave het onder andere beëdigde verklarings van ouers wat in Olympus, oorkant die Bronberg, woon en sê dat hulle en hulle kinders nie op vier ure slaap kan klaarkom wanneer Weiveld aan die gang is nie.
“Almal blameer my,” sê Dave “maar dit is Tshwane wat Weiveld gedagvaar het.” Hy sê die bure lê al vir vier jaar lank klagtes. “Dit is ’n oortreding van die wet op geraasverstoring en iewers moes die bom bars.”
Die Faan Smuts Kapel op die perseel
Desibel
Dave vertel dat 14 naburige inwoners in Oktober 2021 ’n vergadering met die burgemeester gehad het. “Hulle het toe begin met klankopnames en het gevind dat dit 72 desibel binne ’n naburige huis is. ’n Dagvaarding is in Maart vanjaar uitgereik en weer in April en die finale dagvaarding is uitgereik op Saterdag 21 Mei met die ‘Groot Jol’. Die hekke het 2 nm oopgemaak en daar was glo 4 000 gaste toe die polisie en Tshwane-amptenare opgedaag het.
Tog is daar ander mense in die omgewing wat op Facebook geskryf het dat die geraas hulle nie pla nie.
Iris van Wyngaardt skryf: “Ons bly glad nie ver van Weiveld af nie en ja, ons hoor die musiek maar geniet dit vreeslik baie. Die lewe is klaar so “boring” en hulle het regtig gees by Weiveld. Net omdat hulle die naweek die ‘Groot Jol’ gehad het, kla hy daaroor. Ja, dit was hard maar dis nie elke naweek so nie.”
Bronberg Lodge in 2004
Rof
Elsabé Möller skryf: “Ons bly self 4 km van Weiveld af en soms gaan dit regtig rof, dan voel ek of ek my hare uit my kop wil trek, maar ek is seker daar moet maniere wees om hierdie op ’n ander manier aan te spreek as om net die deure te sluit?”
“Ons almal woon buite die stad, en ons woon hier lank voor Weiveld se deure oopgemaak het, omdat ons die vrede verkies en die landelike leefwyse waardeer.” Aan Appel skryf sy: “Ek kon Saterdag tot jou ‘Lemoene’ se lirieke in my sitkamer hoor, wat eintlik heel “fine” was, maar die gedoef doef na dit was onuithoudbaar. So, ek wonder net of daar nie ’n ander oplossing is wat vir almal kan werk nie.”
Rochelle Kleynhans skryf: “Ons bly 3 km van Weiveld af op die Boschkoppad en het Saterdagaand se party so geniet, gevoel ons was self daar al was ons by die huis. Kry ’n lewe buurman en trawante.”
Dave Hayman
Foto: Facebook
Geskiedenis
Dave het ’n paar jaar gelede van sy eiendom, plot 889 Zwavelpoort, aan die eienaars van die Bronberg Hub verkoop. Hulle het aan hom gesê dat hulle dit vir parkeerplek wil gebruik en dit is waar Weiveld en At The Beach opgerig is.
Die oorspronklike hoewe langs daardie T-aansluiting, sê Dave, het aan PC Jansen behoort, wat saam met sy broer, Toppie Jansen, grond aan weerskante van Lynnwoodweg-verlenging besit het. Hy sê dat PC Jansen vandag nog die sandwerke ’n entjie verder aan besit.
Sherewood-stalle langs Weiveld
Foto: Facebook
Hy vertel dat dit nog in die dae was wat die Boschkoppad ’n grondpad was. Toe die aansluiting van die nuut geteerde Boschkoppad met Lynnwoodweg gemaak is, is ’n driehoekvormige deel van ’n kleinhoewe daar afgesny. Dié aardige stukkie grond is deur Faan Smuts aangekoop.
Faan en sy vrou Issie het ’n gewelhuis in Kaaps-Hollandse styl daar gebou. Issie het destyds vertel dat toe hulle in die 1980’s in die nuwe Zwavelpoort-huis ingetrek het, hulle die eerste paar aande sonder ’n voordeur geslaap het en dat daar in daardie tye nie rede vir kommer daaroor was nie.
Die grasdak-gewelhuis het in 2001afgebrand en Dave vertel dat hy nog een van vele bure-brandslaners was wat gaan help het. Faan, ’n Weskusser van oorsprong, ’n innemende storieverteller en humoris met ’n wye vriendekring en ’n ruim hart, het besluit om dit weer van voor af te bou en het toe ’n restaurant en “lodge” daar gevestig.
Faan Smuts
‘Lodge’
Faan en Issie se Bronberg Lodge met sy Golden Mole- kroeg sou inderdaad in die opvolgende jare dié plattelandse kuiertuiste by uitstek vir die omgewing se mense word en sy eienaars sou diep spore in hulle harte trap.
Faan het later planne gemaak om die driehoekhoewe in Bronberg Wynlandgoed te omskep en het ’n vennoot, Flip Marx, gekry. Hy het die plek aan Flip verkoop en Faan is op 26 Augustus 2011 oorlede.
Flip het aangegaan om die plek uit te brei en Faan se vrou, Issie, het die nuutgeboude kapel op die perseel, wat na Faan vernoem is, op 29 April 2012 onthul. Benewens die Bronberg-restaurant is FlavorVille, At The Beach en Weiveld gebou om deel te vorm van die Bronberg Hub. |