Bashewa wen stryd teen brandstofopslagplaas PDF Print E-mail
News - Aktueel
Thursday, 15 October 2009 21:04
Untitled Document

Die planne vir ’n Bashewa brandstofopslagplaas is gekanselleer. Die Bronberger se September-uitgawe het berig dat ’n voorstel onlangs by die Gautengse Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling ingedien is vir die installasie van 12 bogrondse en 10 ondergrondse brandstoftenks met ’n totale kapasiteit van 967 m³ op plot 64, Bashewa, wat aan Garstfonteinweg-verlenging grens.

In ’n brief gedateer 17 September het Mills en Otten Omgewingskonsultante alle belanghebbende partye laat weet dat die omgewingsimpakstudie vir die brandstofopslagplaas gekanselleer is oor ernstige omgewingsbeperkings. Dié beperkings het aangedui dat die ontwikkeling van ’n brandstofopslagplaas op plot 64, Bashewa nie volhoubaar sal wees nie.

Die brief lui voorts dat die bestuur van MBT Petroleum nie verantwoordelik gehou wil word vir die risiko van enige ernstige omgewingsimpakte nie en die projek stopsit.

Volgens Johan Fouche, MBT se hoof uitvoerende beampte, is dié projek egter nie gekanselleer oor die resultate van die impakstudie nie, maar om die gemeenskap tegemoet te kom. Hy het gesê dat hy dit duidelik wil stel dat MBT omgee vir die gemeenskap.


Brandstoflekkasies het ernstige gevolge

Woedend
Bashewa-inwoners was woedend oor die idee dat hul landelike omgewing in ’n gevaarlike industriële gebied omskep sou word waar mense en diere se gesondheid in gevaar gestel kan word deur brandstoflekkasies en die moontlikheid van ontploffings as veldbrande uitbreek. Inwonersvergaderings is gehou en ’n aanlyn protes-platform is geskep waar mense kon beswaar maak teen dié voorgestelde ontwikkeling.

Die Magalies-Bronberg Grondeienaarsvereniging (MBGV) was aktief betrokke by dié saak en MBGV voorsitter, Wolf Snyckers, het ’n spesiale Bashewa-vergadering op uitnodiging toegespreek. Die MBGV het ook in ’n gedetailleerde skrywe sy teenstand teen dié projek gedokumenteer.

Volgens Wolf was daar groot en eenparige teenkanting van die inwoners en hy weet van ten minste 27 beswaarskrifte wat aan die omgewingskonsultante gestuur is. “Dit wys jou net wat ’n gemeenskap kan vermag as hulle saamstaan, betyds en redelik reageer,” sê Wolf.

Vinnig
Bashewa-inwoner Herman Eksteen van plot 49, skuins oorkant die perseel waar die opslagplaas opgerig sou word, het gesê dat die gemeenskap se aksies om die potensieel “rampspoedige” ontwikkeling te stuit, goed deurdag, professioneel en vinnig was.

“Wat vir my wonderlik is, is die eenheid en verenigde front wat ontstaan het onder die mense van die omgewing,” skryf Herman in ’n brief aan bure. “Ek hoop dat dit blywend sal wees. Hierdie insident het ons nader aan mekaar gebring.”

Bashewa-inwoners is nou geïnspireer om ander brandstofprobleme in hul gebied ook aan te spreek. Volgens Ed Retief is die stryd nog nie verby nie omdat daar nog ’n perseel is waar twee bogrondse opgaartenks met ’n geskatte volume van 25 000 liter brandstof staan.

Lekkasie
Inwoners vermoed dat die tenks nie van ’n opvangdam voorsien is nie en sê dat ’n lekkasie of storting van petroleumprodukte op dié perseel dieselfde impak op die grondwater sal hê as die beplande opslagplaasprojek wat gekanselleer is. Bashewa word nie van pypwater voorsien nie en inwoners is afhanklik van boorgate vir hul drinkwater.

Volgens inwoners het ’n verteenwoordiger van Mills & Otten Omgewingskonsultante vir hulle gesê dat MBT 30 000 liter brandstof op ’n perseel kan stoor sonder om ’n impakstudie te laat doen. Bashewa-inwoners is besig om die juistheid van dié stelling te ondersoek. Hulle gaan ook SABS riglyne oor die stoor van brandstof na en is besig om boorgatwater in die omgewing te toets.

Kanker
Dit is bekend dat ’n brandstof byvoegsel, genaamd MTBE, in Suid- Afrika se grondwater gevind is. Dié middel kan kanker veroorsaak as dit in hoë dosisse ingeneem word, maar niemand weet wat die gevolg van lae dosisse is nie.

Volgens Jennifer Pretorius, ’n waternavorser wat dié chemiese middel reeds in 2003 in grondwater gevind het, is MTBE oral in die grond waar daar ’n brandstoflekkasie was. Die mees algemene oorsake van besoedeling is olie-lekkasies met die vervoer van brandstof of in pyplyne en lekkasies by opgaartenks.

MTBE los maklik in water op en versprei vinnig in grondwater. Dit word nie maklik afgebreek nie en dit is moeilik en duur om uit die grondwater te verwyder.

Volgens Anton Moldan, omgewingsadviseur vir die SA Petroleumbedryf Vereniging, is MTBE nog nie in ons land se drinkwater gevind nie. Hy sê dit is wel in grondwater gevind, waar dit nie hoort nie, maar daar is nog nie bewys dat dit ’n impak op ons drinkwater het nie.

Dié ondersoeke is waarskynlik in stedelike gebiede gedoen waar drinkwater van die stadsraad af kom en nie uit ’n boorgat, soos in landelike gebiede nie.

Wet
Mbangiseni Nepfumbada, die Departement van Waterwese se direkteur vir waterbronne inligtingsbestuur, sê dat die regering bewus is van MTBE besoedeling, maar dat daar geen spesifieke wetgewing is om die gebruik daarvan te beheer nie.

Hy sê die wet vereis net dat besoedelaars verantwoordelik gehou sal word vir besoedeling. Dit word van maatskappy wat brandstof berg verwag om hul eie besoedeling te beheer. Oor MTBE besoedeling sê hy: As dit eers in die grondwatersisteem is, is dit nie moontlik om dit fisies te verwyder nie.

 

© 2019 Die/The Bronberger